Toe *James (18) en *Amy (17) begin uitgaan, het almal gedink hulle is die oulikste paartjie in die skool. Maar alles het verander toe James boodskappe van sy eksmeisie begin kry.

“Voor ons begin uitgaan het, het hy gesê dat hulle al van kleins af vriende is en al het hulle paadjies geskei, is hulle steeds goeie vriende wat kontak behou,” het Amy vertel.

Hoewel sy gedink het dit pla haar nie dat hulle bevriend is nie, het sy skelmpies James se selfoonboodskappe gelees.

“Ek het ook deur sy sosiale media gegaan vir nog inligting wat ek kon kry. Dis asof ek soos ’n besetene geraak het; ek moes net weet wat aangaan tussen hulle.”

Soos Amy het ons almal maar ons oomblikke van jaloesie. Wanneer jou kêrel net ’n bietjie in ’n ander meisie se rigting loer, voel dit asof jy net sy kop wil afruk?

Daarom het ons met die LoveLife-berader Ntombi Setemere gaan gesels om ’n paar wenke te kry oor hoe om jaloesie te oorkom; dit sal jou beslis kalmer help bly sodat jy nie in ’n Facebook-bekruiper ontaard nie.

Hoekom raak ’n mens jaloers?

Die meeste gevoelens van jaloesie kom van onsekerheid, wat veroorsaak word deur iets uit die verlede soos wanneer jy dalk nie genoeg aandag by jou ou/meisie gekry het nie. Mense wat onseker is oor hulself en oor dit wat hulle tot ’n verhouding bydra, is ook meer geneig om afgunstig te wees.

Die vrees dat jy dalk jou kêrel of meisie kan verloor, is normaal, maar beheptheid of irrasionele vrese dat hy/sy jou met iemand “beter” gaan vervang, kan ongesond wees en jul verhouding belemmer.

Kan jaloesie gesond wees?

Jaloesie kan maak dat jy en jou maat weet wat julle albei in ’n verhouding wil hê of nie. Elke verhouding het sy eie grense, en dis jy en jou maat wat dit moet bepaal.

Die verskil tussen gesonde en ongesonde jaloesie kom neer op hoe iemand dit hanteer. Wanneer jy jou kêrel of meisie se doen en late begin monitor, kan dit as ongesonde jaloesie beskou word. Dis ook ongesond wanneer dit in ’n beheptheid ontaard of jou lewe oorheers en lei tot irrasionele gedrag, soos sosialemedia-bekruipery of wanneer jy heeltyd  op jou geliefde se foon kyk wanneer hy/sy ’n boodskap kry.

Beveg so die groenoog monster!

  1. Werk aan jou selfvertroue sodat jy die oomblikke van jaloesie kan oorkom. Leer jou persoonlike sterk punte waardeer (bv. Ek is dol oor die vorm van my bene en my sprankelende persoonlikheid.) Dit sal jou dadelik herinner aan hoekom jou kêrel of meisie met jou uitgaan.
  2. Onthou, jou kêrel of meisie mag vriende sowel as vriendinne hê. As hy of sy jou nog nooit ’n rede gegee het om hom of haar te wantrou nie, hoef jy jou oor niks te bekommer nie.
  3. Die sleutel tot ’n goeie verhouding is vertroue – werk daaraan!

Hier’s hulp

Sukkel jy om ’n uitdaging in jou verhouding te oorkom? Stuur ’n Please Call Me na LoveLife se kontaksentrum by 083-323-1023 en hulle sal jou terugbel sodra ’n berader beskikbaar is.

-      Tsakane Ndlovu

Ekstra bron: www.teenforumz.com