Plaaslik het mans jaarliks gemiddeld 52 keer seks, volgens ’n opname deur Pharma Dynamics. Dit is bitter min vergeleke met die wêreldgemiddeld, 104 keer per jaar.

Meer as 500 mans tussen die ouderdom van 18 en 55 jaar wat in ’n vaste verhouding is, het aan die farmaseutiese maatskappy se nasionale opname deelgeneem. Net meer as ’n vyfde (22 persent) van die land se mans het minder as drie keer per maand seks, terwyl 16 persent in ’n sekslose verhouding is.

’n Woordvoerder vir Pharma Dynamics, Mariska van Aswegen, het gesê mans het hul gebrek aan seks toegeskryf aan alles van die ekonomie en toenemende werkdruk tot sosiale media. “Dit is ’n wanbegrip dat mans altyd opgewasse is vir die taak. Stres en angs aktiveer die liggaam se oorlewingstelsel en inhibeer die libido,” het sy gesê.

Altesaam 23 persent van die deelnemers het erken hulle ly aan erektiele disfunksie (ED), en 12 persent van hulle sê hulle lewe al jare met die toestand. “(Volgens uroloë) raak dit tans meer as 40 persent van Suid-Afrikaanse mans en uroloë bevestig dit is baie algemener as ’n dekade of twee gelede,” het Mariska gesê. “Meer as 80 persent van dokters het gesê hulle behandel meer as 10 keer per maand pasiënte met ED. Dis ’n skerp toename in die afgelope paar jaar.”

Die navorsers het bevind sewe persent van mans neem ED-medikasie om hul prestasie te verbeter, al het hulle dit nie nodig nie. Mariska waarsku dit is gevaarlik omdat dit tot afhanklikheid en probleme met ED kan lei. Dit is gewoonlik jonger mans wat die medikasie misbruik, het sy gesê.

Volgens die opname is moderne tegnologie te blameer vir die afwaartse neiging in seksuele aktiwiteit in Suid-Afrika; mense neem hul tablet en slimfoon slaapkamer toe. Van die deelnemers het 34 persent erken hulle doen dit, en 51 persent het gesê hul maat doen dit ook. “Deesdae vat mense meer aan hul slimfoon as hul maat,” het Mariska gesê. “Werk maak ook nou deel uit van ons huislewe en dan vervaag die lyne tussen die slaapkamer en die buitewêreld.”