Soms kry selfs baie goeie vriende lelik stry. Dit voel dalk dit of die vriendskap verby is, maar daar daar’s tog iets goeds aan ’n rusie tussen vriende, sê die kliniese sielkundige Gemma Cribb.

“Soms maak ’n uitval dit moontlik om jou maat dieper as tevore te verstaan. Dit gee jou en die pel ’n kans om regtig te sê hoe julle voel en dit te vra wat julle nodig het.”

’n Mens kan dié moeilikheid oorkom as jy leer regverdig baklei en die situasie volwasse hanteer.

AS JY IN DIE MIDDEL IS

Amy (15) was in die middel van twee strydende groepe vriende. Hulle het haar voor ’n keuse gestel en gedwing om te kies by watter groep sy wil wees.

“Hulle het oor mekaar begin kla en gerugte opgemaak. Dit het vier maande so aangegaan en baie van die meisies was in trane.”

Amy was in twee geskeur en kon nie kies nie. “Dit was baie moeilik. Ek wou nie die boodskapper tussen die groepe wees nie.”

TREE SO REGVERDIG OP . . .

MOENIE KANT KIES NIE: Dis belangrik om nie ’n groep of ’n mens voor te trek nie, sê die kliniese sielkundige Sally-Anne McCormack. “Praat oor hoe elke party moet voel en sê in ander woorde wat hulle vir mekaar probeer sê,” sê sy.

“Byvoorbeeld: ‘Sy skree op jou, maar sy probeer net vir jou sê sy voel seergemaak.’ ”

BEMIDDELAAR: “Jy gaan die bemiddelaar wil speel, maar maak seker jy is regverdig teenoor albei groepe vriende,” sê Gemma. Sy stel voor jy kry die twee groepe bymekaar om misverstande te vermy.

“Moedig hulle aan om direk met mekaar te praat, want dit kan uitputtend raak om die boodskapper te speel.”

WEES ONPARTYDIG: “Kry ’n balans tussen luister na hul klagtes en jou eie oogpunt gee,” sê sy. “Maak seker almal weet jy gee ewe veel vir hulle om.”

AS JY DIE OORSAAK IS

Toe Sarah (17) bevriend raak met ’n nuwe groep, was een meisie bra onvriendelik. “Ek het gerugte gehoor die meisie hou nie van my nie en toe begin ek kla oor haar en sê niemand hou van haar nie.”

Sy het die meisie op ’n partytjie konfronteer. “Sy het begin wegstap en ek het haar gevolg en op haar geskree en gevra hoekom sy nie van my hou nie. Sy het onverwags omgedraai en op my begin skree. Ek het geweet ek is verkeerd.”

TREE SO REGVERDIG OP . . .

SÊ JY’S JAMMER: “Sê jy is jammer oor die aanval, maar nie noodwendig oor die beginsel nie. As jy, anders as Sarah, weet jy is reg, vra net om verskoning vir hoe jy dit hanteer het,” sê Sally-Anne.

Gemma stel voor jy praat met jou vriendin. “Luister met ’n oop gemoed.”

GEBRUIK “EK”-SINNE: Gemma sê jy moet nie-aanvallende taal gebruik. “Gebruik sinne wat begin met ‘ek voel’ of ‘ek sou graag’ om jou bekommernisse so oor te dra dat sy waarskynlik daarna sal luister,” sê sy. “Vermy dit om met ‘jy’ te begin.”

MOENIE AGTER HAAR RUG PRAAT: Sarah het deur bitter ervaring geleer: Wanneer jy skinder, gee jy net vir die ander persoon meer ammunisie om later teen jou te gebruik. “Moenie boelie, terg, jok, hulle lelike name noem, hul geheime uitlap of agter hul rug praat nie,” sê Gemma.

Wees volwasse en gaan reguit na die persoon om die probleem te bespreek.

AS JOU VRIENDIN DIE RUSIE BEGIN HET

Natalie (17) het gevoel haar wêreld stort in duie toe haar vriendin Sammy haar daarvan beskuldig dat sy met haar kêrel flankeer het. “Sy het jaloers geraak en vir die hele skool vertel ek het met die ou geflirt en ek het nie. Hy het selfs vir haar gesê dis nie waar nie, maar sy wou nie luister nie,” vertel Natalie.

“Die ergste is dat ek kort en sy lank is en toe sy my daaroor konfronteer, het sy bo my uitgetroon en op my geskree. Dit was skrikwekkend.”

Dit het so handuit geruk dat Natalie na ’n ander skool toe is.

TREE SO REGVERDIG OP . . .

MOENIE PERSOONLIK RAAK NIE: Al gaan jy lus hê om terug te kap met snedige aanmerkings, veral as jy voel jy het niks verkeerd gedoen nie, waarsku Sally-Anne: “Wanneer jy ’n appeltjie met ’n vriend wil skil, speel die bal, nie die man nie.”

LUISTER NA JOU VRIENDIN: “Sê vir haar jy gaan nadink oor alles wat sy gesê het en jy sal alles in jou vermoë doen die saak reg te stel,” sê sy. “As jy na haar luister, sal sy voel jy sien haar kant in. Jy hoef nie met haar saam te stem nie, maar dink ten minste daaroor en kyk of jy enigiets kan verander.”

MOET HAAR NIE VERMY: Natalie se eerste reaksie was om weg te hardloop van die drama pleks dat sy dit in die gesig staar. “Probeer vriendelik wees en moenie jou vriendin vermy nie, al is jy ongemaklik naby haar,” sê Gemma. “Hou gouer julle terugkeer na normaal, hoe gouer sal die onenigheid oorwaai.”

SPEEL JY VUIL?

Voltooi ons vraelys en kyk of jy regverdig baklei

  • Ek het al ’n vriendin geïgnoreer en uit die groep gesluit. JA/NEE
  • Ek het al iemand se uitnodiging na my partytjie teruggetrek. JA/NEE
  • Ek stuur lelike boodskappe na mense met wie ek vassit. JA/NEE
  • Ek kla by my vriende oor ander vriende. JA/NEE
  • Ek kan elke argument wat ek met vriende gehad het haarfyn onthou. JA/NEE
  • Ek vra nooit eerste om verskoning nie. JA/NEE
  • Ek merk aspris lelike foto’s van mense op Facebook. JA/NEE

MEESTAL WAAR

Jy is vasbeslote om mense verkeerd te bewys, of jy nou ’n wrok koester, ou koeie uit die sloot grawe of baklei tot die bitter einde. As jy weer wil lostrek, koel eers ’n dag af en probeer jou vriendin daarna met ’n oop gemoed benader.

MEESTAL VALS

Jy verkies om stil te bly pleks dat jy ’n gerug aanblaas en is ’n goeie voorbeeld van hoe om rusies volwasse en eerlik op te los. Maar jou pogings om die vrede tussen vriende te bewaar, kan soms beteken jou luidrugtiger vriende loop oor jou. Maak daarom seker jy sê jou sê!

VERMY DÍT TYDENS ’N GESTRY

Die sielkundige Margaret Clarke deel haar drie reëls om onenigheid tussen vriende te vermy.

  • Moet NOOIT agter hul rug oor vriende skinder nie, want hulle sal altyd uitvind en gaan dan sukkel om jou weer te vertrou.
  • Wanneer julle vassit, stel vas wat vir jou belangrik is: die stryery of die vriendskap. Dalk is dit tyd om nuwe maats te maak as jy en jou vriendin altyd oor lawwe goed stry.
  • Probeer die probleem oplos deur met die persoon te gesels en moenie ander mense daarby betrek nie.