[caption id="attachment_59876" align="alignnone" width="600"]Foto: Wikiphoto Foto: WikiPhoto[/caption]

’N VRIENDIN stuur nou die dag vir my ’n artikel. Daarin lees ek dat Helen Fielding, die skrywer van Bridget Jones’ Diary, vir navorsingsdoeleindes (vir haar nuutste boek) twee vryersprofiele op liefdesoek-webtuistes geskep het.

Die een het ’n gewone naam gehad, sy het op haar foto ’n sporthempie gedra en sy het liefde gesoek. Die ander een het ’n sexy foto gehad, haar naam was SuperLuckyBitch en sy het dit reguit gestel dat mans gelukkig sal wees om saam met haar gesien te word.

Interessant, het ek gedink. En dadelik gaan loer na my profiel, wat nie juis oorstroom word deur profielbesoekers nie. My profielnaam was – heel onoorspronklik genoeg – “Erla”.

En daar het gestaan dat ek “op soek is na ’n sielsgenoot”. In daardie stadium was ek gelukkig as vier mans na my profiel gaan loer het. Die mans wat my gekontak het, het oorwegend net een ding gesoek – en dit was nie liefde nie. ’n Mens sou dink dat ’n profiel wat reguit vir liefde vra, liefdesoekers sal lok – maar nee . . . Dit was tyd om Helen Fielding se tegniek te beproef . . .

'Wees arrogant. Wees gemeen. Dis wat mans soek'

Eers het ek ’n paar sexy foto’s gaan soek. Starende ogies, pruilende lippe, bultende borste . . . ek het darem hier en daar ’n paar. Toe het ek diep asemgehaal en dit geplaas. Saam met hierdie naam: SuperSexyB. Ek kon dit net nie oor my hart kry om die B-woord te gebruik nie. So daar was sy: ’n seksbom met ’n arrogante naam. Ek het effens gegril, maar voortgegaan en myself begin beskryf. Moenie naais wees nie, het ek my moed ingepraat. Wees arrogant. Wees mean. Mans hou blykbaar daarvan. Helen Fielding sê so . . .

So skryf ek toe my nuwe beskrywing van myself, en dit lyk so: Ek is puntenerig nie en nie desperaat nie. Ek gaan dit nie vir jou maklik maak nie. Jy is die jagter, nie ek nie. Ek kan dolverlief op jou raak – of nie. Dis alles in jou hande.

Dit het vir my verskriklik verwaand geklink, en weer het ek my vir myself geskaam. Toe maar skouers opgehaal en verder geskryf, dié keer oor watter soort man ek soek: Suksesvol. Slim. Sexy. Romanties. Passievol. Maak seker dat jy al die boksies kan regmerk voor jy aansoek doen. Hierdie is ’n voltydse werk en nie ’n stokperdjie nie.

Ek moet bieg dat ek by myselwers gedink het dat ek heel moontlik haatboodskappe gaan kry weens hierdie arrogante versoek, maar . . . Bridget Jones is nooit verkeerd nie . . .

Erla internet

Ek het vir die nuwe sexy feeks op die webblad geglimlag, die knoppie gedruk en dit gestuur. Binne enkele sekondes nadat ek dit geplaas het, het die besoekers begin instroom. In die twee weke sedert ek vir SSB geskep het, het my profielbesoeke gestyg van gemiddeld 5 per week na 300 per week.

Toe begin die e-posse inkom . . .

Ek het die ergste verwag. Veral met so ’n profiel. Maar moenie dit glo nie. Skielik kry ek versoeke om te ontmoet van mans wat suksesvol is, nogal taamlik konserwatief (wat nie vir my lekker sin maak nie) en wat liefde soek en nie net ’n woeps-waps in die katel nie. Hoe interessant.

“Hoekom is dit so?” vra ek ’n mansvriend wat self al op die soekwerf was. “Ek is ooglopend vol van myself en ongeskik en nou kry ek al wat ’n nice ou is.”

“Wel,” antwoord hy. “Ek beskou dit nie as verwaand nie. Onthou, mans is egosentriese skepsels. Die meeste mans sal dink jy het selfvertroue. En jou versoek, dit waarvoor jy vra, is eenvoudig genoeg dat die beperkte manlike brein dit kan snap. Dis net ’n paar goed wat hy moet onthou. Jy maak dit maklik. Mans hou daarvan.”

En glo dit of nie, dis dan ook die reaksie wat ek kry. Die meeste briewe begin met ’n lysie van my vereistes waaraan hulle voldoen – en hulle klink maar te gretig om my tevrede te stel. Wie sou nou kon raai. En volgende week begin ek hierdie mans ontmoet . . .

- Erla-Marie Diedericks

Credit Erla-Mari Diedericks blog vir Huisgenoot oor verhoudings, liefde  en die ervarings van ’n volwasse enkellopende die era van internet-afsrake.  Sy is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by kalahari.com. As jy ook ’n storie in jou onderste laai het, skryf gerus in vir Erla se aanlyn-skryfkursus by http://www.learninggroup.co.za/online-creative-writing-course.php

* Stel jy belang in aanlyn-ontmoetings? Gaan na Huisgenoot se ontmoetingsportaal by http://www.pasmaats.co.za/s/