Kathie* (34) en Robert Mitchell* (38) het gedink hul huwelik is gedoem. Hulle was geskok toe hul laaste, wanhopige poging om dit te red, werk – en nou is hulle op hul gelukkigste. Kathie deel die storie met Huisgenoot.

Ek het in ’n betreklik disfunksionele en chaotiese huis grootgeword. Ons was vier kinders – twee seuns en twee dogters – en ek was die derde kind.

My jongste broer, wat vyf jaar jonger was as ek, is met verstandelike en liggaamlike gebreke gebore. Hy het ook epileptiese aanvalle gekry en was dikwels in die hospitaal. Dit het meer druk geplaas op ’n reeds taamlik spanningsvolle situasie. My pa, wat aan ’n geestesafwyking gely het, het nie verplig gevoel om te werk of vir sy gesin te sorg nie. Ons was gevolglik baie arm en het dikwels nie geweet waar die volgende maaltyd vandaan gaan kom nie.

Diep in sy hart was hy ’n goedhartige en sagmoedige mens, maar ook baie bevry en afwesig. Hy het baie tyd in die skuur deurgebring waar hy allerhande peuterwerkies gedoen het, hoewel sy pogings nooit veel vrug gedra het nie.

My ma was in baie opsigte heeltemal die teenoorgestelde. Gil en skree was haar oplossing vir die stres. Sy het ons emosioneel mishandel, het gou kwaad geword en ’n baie skerp tong gehad. Baie van die herinnerings uit my kindertyd was van my ouers se bakleiery en my ma wat woedend wegjaag.

Die verhouding tussen my ouer broer en my ma was ook taamlik wisselvallig, want hy was ook baie opvlieënd. Dit het altyd gevoel asof ek in die middel vasgevang is en moes dikwels vredemaker en tussenganger speel in my poging om die vrede tussen die strydende partye te bewaar of herstel.

Ek het baiekeer ook lus gevoel om my frustrasie uit te skree en te gil, maar daardie ruimte was reeds gevul; dus het ek maar stilgebly. Dis ’n paar jaar later: Ek kon aan daardie omgewing ontsnap en my universiteitsjare weg van die huis af geniet in my eie woonplek. Ek wou, nadat ek my eerste graad behaal het, graag reis en my eerste werk was baie ver van die huis af. En toe ontmoet ek en Robert mekaar.

Ek het op daardie tydstip nie werklik romanse of enige ernstige verhouding gesoek nie, maar ek was ietwat eensaam en het die aandag geniet wat hy my gegee het. Ek onthou ’n gesprek kort nadat ons mekaar ontmoet het. Ek het hom vertel van my moeilike kinderjare en die tragedies wat ek deurgemaak het (twee van my sibbes was toe reeds oorlede) en hy het gereageer met: “Wel, ons sal dan na jou moet kyk,” en dit was die woorde wat my gevang het.

Ek het ’n groot deel van my lewe daaraan gewy om na ander om te sien en te probeer om in hul behoeftes te voorsien, en vir die eerste keer ontmoet ek iemand wat na my wil omsien! Wel, ons het die wêreld platgereis en op verskeie plekke gewerk, en is drie jaar later getroud.

Maar kort voor lank het spanning in die verhouding opgeduik. Dit het gevoel asof ons oor niks kon saamstem nie en het gewoonlik gestry oor onbenullighede.

Ek het agtergekom dat Robert ál meer teruggetrokke en onbereikbaar geraak het wanneer hy stres by die werk ervaar het. My frustrasies en teleurstellings het mettertyd oorgegaan in woede, wat op sy beurt in ’n siedende wrok ontaard het.

Ons het meermale huweliksberaders gespreek en dit het beslis gehelp, veral omdat dit weer die kommunikasiekanale oopgemaak het. Tog het sake geleidelik agteruitgegaan en ons het ’n klompie werklik onbehulpsame maniere ontwikkel om met mekaar om te gaan.

Sekere dinge sou ’n diep woede in my ontketen, veral wanneer ek gevoel het hy het die huis afgeskeep, het nie iets gedoen nie of het nie eens agtergekom wat wel gedoen moes word nie. Ek sou hom aanval sodra hy tuiskom, veral wanneer hy laat was, selfs al was dit net vyf minute. Hy sou hom onttrek en nog meer afgetrokke raak, en dit het selfs groter woede en hewiger reaksie by my ontketen.

Op ’n dag gebeur iets toe wat alles heeltemal laat uitmekaarval het. Hy was in ’n ongeluk en moes hospitaal toe gehaas word. En op daardie oomblik het ek besef hoe min ek werklik vir hom omgee en hy het tot die besef gekom hy wil my nie werklik graag aan sy sy hê nie.

Ons het saamgestem dat ons moes teruggaan vir berading, maar dit het ongelukkig nie die gewenste uitwerking gehad nie. Dit was soos een tree vorentoe en twee treë terug. Ek besef nou, agterna beskou, dat die soort terapie wat ons gekry het, nie werklik aandag geskenk het aan die onderliggende oorsake van ons spanning en frustrasies nie.

By Robert was daar ook ’n klomp diep woede, meestal uit sy kindertyd en die geboelie wat hy op skool moes deurstaan, en ook die gebrek aan koestering wat hy tuis ervaar het. Al daardie woede het toe uitgestroom en dit het gevoel asof ek die oorsaak was van alles wat skeefgeloop het in ons huwelik.

Hy het gesê ek is ’n boelie en hy kon nie my aggressie verwerk nie. En toe, ’n paar dae voor my 40ste verjaardag, het hy gesê hy gaan my verlaat. Ek was verpletter en gebroke. Ons het steeds die raadgewer gespreek, maar het steeds nêrens gekom nie; dus het ons gelos, en Robert het gesê die huwelik is gedoem en hy het geen hoop om dit te red nie.

Die volgende ses maande was ’n tuimeltrein van helse afmetings. Ek wou nie hê die huwelik moes eindig nie, ek het egskeiding nie beskou as ’n oplossing vir enigiets nie en ek wou nie hê ons twee seuns moes in ’n gebroke huis grootword nie.

Ek het vir hom gesê ek wou nie skei nie, maar ek het ook enige kans op versoening in die gevaar gestel met my woedeuitbarstings. Hy wou net hê iemand moes hom saggies behandel en dit was iets wat ek glad nie gevoel het ek sou kon doen nie.

Toe hoor ons albei afsonderlik by verskillende vriende van die Imago-naweekwerksessie vir pare en besluit om dit as laaste ’n poging te beproef. Ek sal nooit die oggend van die kursus vergeet nie: Ons was die enigste paar wat afsonderlik opgedaag het.

Robert was laat en ek het begin vrees hy sou glad nie kom nie. Ons het as paartjie met die kursus begin met ’n groot klomp seerkry, woede en hopeloosheid, en was boonop op die randjie van egskeiding.

Dit is moeilik om die ommekeer te beskryf wat binne net twee dae plaasgevind het, maar ons was teen die einde weer bymekaar as 'n paartjie. Boonop was daar hoop dat ons huwelik herstel sou kon word en dat dit die beste tot dusver kon wees.

Ons het met min hoop daar aangekom. Robert was baie skepties en huiwerig om daar te wees, maar ons het albei teen die Sondagaand ’n diep, intieme skakeling en grondige begrip van mekaar ondervind.

Die kursus het my laat besef ek het my behoeftes, waaraan nie voldoen word nie, uit my kinderjare saamgebring en ek het verwag my man moes daaraan voldoen. Toe hy nie kon nie, het die spanning en frustrasies ingetree.

Ek het besef dat ek sy gebrek aan belangstelling in ons huis geïnterpreteer het as dieselfde verwaarlosing wat my pa teenoor sy gesin getoon het. Wanneer Robert hom dan onttrek het en hom gedistansieer het (meestal in reaksie op my aggressie), het hy my aan my pa se afsydigheid herinner.

Voorts het sy gedrag, wat kwade reaksies by my aangewakker het, hom herinner aan die gebrek aan die koestering wat hy kleintyd ervaar het. Imago het ons albei geleer konflik is ’n aanduiding van groei wat wil plaasvind en dat ons maat daar is om daardie groei makliker te maak en ons heling aan te help.

Dit het na ’n onmoontlike ideaal gelyk, maar ek het dit op die een of ander manier sien oopgaan tydens die verskillende oefeninge wat ons gedurende die Imago-naweek gedoen het, sowel as in ’n paar sessies met ’n Imago-terapeut daarna.

Eindelik het ons die gereedskap gehad waarmee ons die kern van die konflik in ons huwelik kon behandel en dit vir goed op te los.

Die kursus het ons aangemoedig om verby reaktiwiteit te beweeg tot by gewaarwording. Ons het ’n baie intieme verhouding met ons lewensmaat – soos met niemand anders nie.

Wanneer ’n mens so lank so intiem met iemand saamleef, kan dit voel asof hy/sy werklik weet hoe om ons om te krap. Sekere dinge wat ons lewensmaat doen, kan ons briesend maak, terwyl ons ander soort gedrag as net effens irriterend ervaar, maar dit lok nie dieselfde reaksie uit nie.

Jy kan agterkom hoedat, by ander mense, die gewoontes van hul lewensmaat hulle werklik kwaad maak, terwyl dit jou nie eintlik sal pla nie. By Imago leer jy om werklik stil te staan en na te dink oor die gedrag en handeling wat ’n diep en nadelige reaksie by jou veroorsaak en dat daardie refleksreaksie in werklikheid meer verband hou met die behoeftes uit jou kinderdae waaraan nie voldoen is nie, en nie soseer met jou wederhelfte se optrede (wat soms werklik gering is) nie.

Die belangrikste stuk dialooggereedskap wat jy aanleer, is ongelooflik kragtig en dit stel jou in staat om behoorlik te luister (soms vir die eerste keer). Dit help jou om jou eie kwade reaksies beter te verstaan, en selfs een tree vêrder: Dit help jou heling vind.

Ek het in ons twee dae lange Imago-kursus meer heling en persoonlike groei ervaar as in baie, baie jare van berading en terapie. My grootste spyt is dat ons nie vroeër daarvan gehoor het nie en dat ons nie jare voorheen al gegaan het nie, selfs as ’n voorhuwelikse kursus. Dit ons sou beslis baie jare se pyn en angs gespaar het.

Ek is tog dankbaar dat ons vroeg genoeg daarvan gehoor het om ons huwelik te red. Dit het ons ook gehelp om die manier waarop ons ons kinders grootmaak . . . te heroorweeg en na te dink oor hul persoonlike ontwikkeling.

Daar is ook ’n Imago-kursus vir enkellopendes, en wanneer ons kinders groot genoeg is, sal ons hulle aanmoedig om dit by te woon – en beslis die kursus vir paartjies voor hulle trou.

Ongeag hoe ’n mens daarna kyk, die huwelik is harde werk en dit sal altyd inspanning en energie verg om ’n sukses daarvan te maak. Jy kan die kursus bywoon, selfs al is jou huwelik of verhouding nie in die verknorsing nie, want elke enkele huwelik kan baat vind daarby. Dit kan net die huwelik help om sterker, dieper en meer lonend te raak.”

*Skuilname

Hierdie storie is deur ’n leser aan Huisgenoot verskaf en ietwat deur ons geredigeer.

Het jy ’n treffende storie om te vertel? Of dit nou ’n ongelooflike prestasie is, ’n hartverskeurende struikelblok wat jy moes oorkom het of sommer net iets wat jou laat lag het – deel jou storie met ons en dit verskyn dalk in Huisgenoot of op ons webtuiste.

Klik hier om uit te vind hoe.