Seksuele lot (sexual destiny) is die idee dat as twee mense sielsgenote is, hul seksuele bevrediging outomaties teenwoordig sal wees.

Maar navorsers in Kanada het bevind hierdie ingesteldheid vernietig verhoudings, want mense laat na om aan hul verhouding te werk en stap eerder net weg.

Die doktorsgraadstudent Jessica Maxwell van die Universiteit van Toronto het met navorsers aan die Dalhousie-universiteit saamgewerk en ses studies uitgevoer om faktore te bepaal wat ’n uitwerking op ’n paartjie se verhouding en seksuele bevrediging het.

Sy het met 1 900 deelnemers gepraat wat almal in verskillende stadiums van hul verhouding is en aan die pare ’n reeks vrae gestel. Sommige van die groep het aan seksuele lot geglo; ander het eerder aanklank gevind in seksuele groei, die idee dat bevrediging in die slaapkamer tyd en moeite verg.

Daar is bevind dié wat in seksuele groei glo, het ’n beter verbintenis tydens seks, hoër seksuele bevrediging met hul maat en oor die algemeen ’n beter verhouding.

Aan die ander kant het diegene wat aan seksuele lot glo, laer seksuele en verhoudingsgeluk ervaar. Die skrywers het opgemerk hulle ervaar ook dalk bykomende druk in die slaapkamer, want hulle glo prestasie speel ’n sleutelrol daarin om die sukses van ’n verhouding te bepaal.

“Mense wat in seksuele lot glo, gebruik hul sekslewe as ’n maatstaf van hoe goed hul verhouding vaar. Hulle glo probleme in die slaapkamer is gelyk aan probleme in die verhouding as ’n geheel,” sê Jessica.

“Mense wat in seksuele groei glo, is van mening dat hulle aan hul seksuele probleme kan werk. Hulle sal nie toelaat dat dit hul verhoudingbevrediging beïnvloed nie.”

Die ondersoek is in APA PsycNET gepubliseer.

© Cover Media