En is jy effense psigopaties, het jy dalk net die regte geaardheid om die sakewêreld oor te neem.

Nuwe studies deur Amerikaanse navorsers toon ’n skeutjie narsisme is wat suksesvolle sakeleiers laat uitstyg in die korporatiewe wêreld, berig die Wall Street Journal.

Studies deur die Universiteit van Nebraska en van Illinois en die persoonlikheidstoetsingsfirma Hogan Assessment wys mense met ’n lus vir naam maak en mag, is geneig om sakeleiers te word.

Die bevindinge van die ondersoek gaan in die vaktydskrif Personnel Psychology gepubliseer word. Navorsers het 54 bestaande studies oor narsisme bestudeer.

In meningspeilings is mense gevra of hulle hul vereenselwig met stellings soos “As ek oor die wêreld kon heers, sou dit ’n beter plek wees” en “Ek is spesiaal”.

Die uitvoerende hoofde van groot korporatiewe firmas se briewe is ook bekyk. Die hoeveelheid kere dat aandeelhouers na hulself verwys of hulle “ek” en “my”, pleks van “ons” sê, en die grootte van hul foto’s, verklap alles hoe baie bedryfsleiers van hulself dink.

Hogan Assessment gebruik ’n skaal van een tot honderd om te bepaal hoe narsisties iemand is. As jy tussen 70 en 90 lê, het jy wat die navorsers “ware selfvertroue” noem en is jou narsisme net genoeg om jou vertroue in jou vermoëns te gee.

Maar as jy bo 90 lê, is jy sommer net arrogant.

“Wanneer dinge skeefloop, verkwalik hulle ander mense en wanneer dinge reg loop, eis hulle self al die lof,” sê  Rodney Warrenfeltz, wat die toetse behartig, oor mense wat bo 90 lê.

Peter Harms, ’n leier van die Universiteit van Nebraska se studie, bestudeer spesifiek “donker karaktertrekke” en meen eienskappe soos psigopatie en Machiavellisme in klein hoeveelhede is nuttig.

“’n Bietjie psigopatie lei dikwels tot dapperheid en Machiavellisme gee jou politieke vaardighede.”

Daar is wel ook grootbase wat met nederigheid en ootmoed sukses behaal en die studie het ook gekyk na die minste narsistiese leiers in Amerika.

Die grootbaas van die winkelgroep Target, Gregg Steinhafel, Donald Thompson van McDonald’s en die Pepsi-hoof, Indra K. Noovi, tel onder die 10 nederigste bedryfshoofde in die land.

Mieke Vlok

Oorspronklike skakel: http://blogs.wsj.com/atwork/2014/01/13/are-you-vain-enough-to-get-ahead/