Ons verhoudingsblogger Erla ontmoet uiteindelik ’n sielsgenoot op die internet – en sê hom dan af met  ’n teksboodskap . . .

Main

NOU die dag dink ek – daar is baie valse beloftes en hoop in die soektog na ’n sielsgenoot. Om jou hart op papier te sit – of in dié geval elektronies die wye wêreld in te stuur – kos waagmoed. Dis ’n liefdestaak. En dit lewer nie altyd liefde op nie.

In my geval het ek al talle moontlike sielsgenote ontmoet, maar die moontlikheid ontplof altyd soos ’n ballon in my gesig. Want hoe hulle  aanlyn vry, is nie altyd hoe hulle in die werklikheid vry nie. En hoe ’n man klink, is nie noodwendig hoe hy is nie.

So ’n ruk gelede ontmoet ek ’n man wat my die maan, son en sterre belowe. Goed, eintlik net ’n bad by die see. Waarheen hy my sou dra. Handevol gedigte is aan my opgedra en aangedra en toe ons ontmoet, toe is dit nie net perfek nie, dis superperfek. Ek was in ’n droom. Hy het my weggevoer na sy woonstel wat oor die branders gehang het, en daar het hy vir my baddens vol borrels en beloftes getap waarin ek gelê en week het terwyl hy vir my Afrikaanse liefdesliedjies speel.

Oor kerslig en sjampanje is ek verlei en verlos van die soektog na my ewig ontwykende beminde. Hy het my geneem na ’n stuk grond reg langs die see. Daar was ’n ou murasie. Hier wou hy ’n huis bou. Ek het gewonder of hy ons saam daar sien. Ja, het hy gefluister. “Ek sien myself kaalvoet en ontspanne lang die see stap. En jy . . . jy sal sit en skryf.” Ons is Mount Nelson toe. Sjampanje gesit en drink in ’n hotelkamer terwyl hy rugby kyk – iets vir my, iets vir hom. Saam het ons kos gemaak, praatjies gemaak oor ’n lewe saam.

’n Toekoms . . .

Hy het my afgesê met ’n WhatsApp – ’n boodskap oor ’n selfoon.

“Ek het te veel moeilikheid in my lewe. Ek sal joune net versuur.”

Die moeilikheid? ’n Egskeiding wat nog allesbehalwe klaar was. En ek weet nie wat nog nie. Net hy sal weet.

Vir ’n week is ons uitmekaar. My hart gebreek. Dieselfde dag het ek gehoor dat daar ’n knop in my bors is en dat ek ’n mammogram moet laat doen. Ek het dit vir hom vertel, maar nie weer van hom gehoor nie.

’n Week later het dinge skielik weer rooskleurig gelyk. Die mammogram het gewys alles is in die haak – en hy het my weer gekontak.

En so het die kat-en-muisspeletjie begin. Dan wil hy my hê, dan nie. En ek – ek het net ál onsekerder geword tot ek uiteindelik met hom uitgemaak het – via WhatsApp. Party sou sê dis sy verdiende loon. Maar my hart was gebreek.

Niemand het gewen nie.

Dit is die storie in ’n gekraakte, gekrenkte neutedop.

Ek het regtig gedink hy was my sielsgenoot. Maar vir hom, en vir myself en vir almal wat soek, sê wyle Johannes Kerkorrel dit dalk die beste:

Ek het jou gesoek

In California

Op die Bay Area Rapid Transit

In die Haight-Ashbury

En die Castro District

In die skare

Het ek kortliks ’n glimps

Van jou profiel gesien

Ek het jou gesoek

In strate, kafees

Bars, lounges

In kroeë

En jy het my

Altyd ontwyk

My ewig ontwykende beminde

En jy ontwyk my nog steeds . . .

Erla-Mari Diedericks

Credit Erla-Mari Diedericks blog vir Huisgenoot oor verhoudings, liefde  en die ervarings van ’n volwasse enkellopende die era van internet-afsrake.  Sy is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by kalahari.com. As jy ook ’n storie in jou onderste laai het, skryf gerus in vir Erla se aanlyn-skryfkursus by http://www.learninggroup.co.za/online-creative-writing-course.php

* Stel jy belang in aanlyn-ontmoetings? Gaan na Huisgenoot se ontmoetingsportaal by http://www.pasmaats.co.za/s/