Jy’s heimlik verlief op iemand en weet jou bestaan is nie genoeg om ’n afspraak te verseker nie! So maak mens . . .

  • Luister en vra  
  • Jy’s ’n goeie luisteraar, maar jy vra nie enige vrae nie . . . en ons weet daar is soveel onbeantwoorde vrae wat deur jou kop maal!

    Wat jy moet doen

    Vra net, of jy sal nooit weet nie. Wenk: Maak asof jy ’n joernalis is wie se werk dit is om vrae te vra. Kennis is mag en as jy meer weet, kan jy mos die gesprek aan die gang hou. Hou dit ontspanne en begin eenvoudig met: “Wat gaan jy die naweek doen?”

    • Moenie skaam wees nie

    Jy is selfversekerd en gesels ’n hond uit ’n bos as jy teksboodskappe stuur, maar as jy jou droomou of -meisie sien, raak jy doodskaam, terughoudend en maak of jy nie belangstel nie.

    Wat jy moet doen

    As jy werklik ’n indruk wil maak, moet jy dit self doen. Skraap die moed bymekaar om te glimlag en hallo te sê as hy of sy verby jou stap.

    • Moenie ’n Facebook-bekruiper wees nie

    Jy loer gedurig op hul Facebook-blad en krimp steeds ineen oor die keer toe jy ’n inskrywing van twee jaar gelede ge-like het.

    Wat jy moet doen

    Draai ’n bietjie briek aan. Dis belangrik om te wys jy stel belang, maar te veel belangstelling kan hulle afskrik. Onthou hoe jy na sjokolade smag as jy dit lank laas geëet het; so beperk jou “likes”, kommentaar en “shares”.

    • Let op lyftaal  

    Jy vou jou arms en speel senuagtig met die knope aan jou bloes om oogkontak te vermy.

    Wat jy moet doen

    As jy nie oogkontak kan maak of behou nie, begin deur speels aan die mens te vat met wie jy praat. Vat liggies aan hul bo-arm of elmboog as julle gesels; dit sal beslis ’n indruk maak. As jy genoeg selfvertroue bymekaar kan skraap, probeer oogkontak behou wanneer julle gesels.

    • Bel ’n pel  

    Jou tong is skielik geknoop as jy met jou droomou of -meisie moet praat. Sjoe, jy stoot selfs ’n deur waarop “trek” staan!

    Wat jy moet doen

    Ons almal het daardie pel, die selfversekerde een wat nie op hul mond geval is nie. Vra hulle om vir jou ’n afspraak saam met ’n paar ander vriende te help reël. Hulle kan jou mentor wees en jou leer flikkers gooi.

    • Moenie te vreemd wees nie

    Jy raak soms vreemd . . . soos wanneer jy net voor jou uitstaar.

    Wat jy moet doen

    Stop. Jy wil die een op wie jy ’n ogie het, beïndruk, nie afskrik nie! Kyk so ’n bietjie af, en as jy dan opkyk, glimlag of knik jou kop sodat hulle kan weet jy’t hulle gesien – sonder dat jy hulle so laat skrik dat hulle in die teenoorgestelde rigting hol!

    • Los die sarkasme

    Jy kruip weg agter slim sêgoed of loop oor van die sarkasme as jy met die mens gesels.

    Wat jy moet doen

    Sarkasme en slim opmerkings kan groot pret wees, maar as jy werklik in iemand belangstel, moet jy dit dalk probeer stop en ’n bietjie ernstiger raak sodat die gesprek in iets betekenisvollers kan ontwikkel.

    • Sosiale media

    Jy gebruik sosiale media om te wys jy stel belang. Jy maak staat op lirieke, memes en emosionele Facebook- en Twitter-inskrywings wat verklaar hoe verlief jy is.

    Wat jy moet doen

    Moenie verwag dat jou droom-een via die versteekte boodskappe wat jy met al jou pelle op sosiale media deel, moet raai dat jy belangstel nie. Praat direk met hulle sodat dit duideliker is dat jy belangstel. Boodskappe op sosiale media kan verkeerd vertolk word en die laaste ding wat jy wil hê, is dat hulle dink jy is op iemand anders verlief.

    • Moenie hardloop nie!

    Nadat jy vir hoe lank in die geheim verlief was, deel jy eindelik jou gevoelens met hom of haar – net voor jy die hasepad kies!

    Wat jy moet doen

    Moenie dit net uitblaker nie. Vat dit rustig en beplan wat jy gaan doen as jy die punt bereik waar jy wil sê hoe jy voel. Onthou om eerlik te wees en dinge uit hul oogpunt te sien, of dit goed of sleg uitdraai.

    - Faiza Mallick

    Bronne: relationships.likes.com, rookiemag.com