Jy sal steeds eers ná ’n ruk beter voel.

En net sodra jy dink jou eks is iets van die verlede, hoor jy hulle is nou saam met iemand anders. Dit sal jou diep raak en nog erger laat voel wanneer jy hulle sien waar hulle soos jong verliefdes lyk. En jy sal hulle sien, ongeag hoe groot die stad is waarin jy woon. Hoe nou gemaak?

Eerstens moet jy aanvaar dat jy deur verskeie stadiums sal gaan. Jy sal heel eerste kwaad wees. ’n Beter mens sal bly wees vir hul eks en besef die einde van jul verhouding het hulle oopgestel vir ware liefde, maar eintlik voel jy omgekrap. Daar is niks fout daarmee nie; die skrywer E. J. Rosetta stel aan Huffington Post voor jy gee jou daaraan oor, maar binne perke. Haal jou aggressie uit op nielewende voorwerpe; slaan kussings, nie jou vriende nie. Vloek na hartelus by die huis; liefs nie op kantoor nie. Beproef iets soos skopboks of enigiets wat jou van al daardie gevoelens ontslae laat raak.

Sodra jy dit agter die rug het, is dit tyd om te fokus daarop wat goed is in jou lewe; jy hoef niemand tevrede te stel nie. Dalk het jy maande gemaak of jy dol is oor kunsflieks om jou eks te beïndruk. Nou kan jy Jennifer Aniston se jongste romantiese komedie kyk as jy wil. Of dalk moes jy jou voorhou as ’n fynproewer, terwyl jy eintlik smag na ’n hamburger. Nou is die tyd om weer te konsentreer op dit waarvan jy hou.

Jy sal nou ook meer vrye tyd hê, wat kan beteken dat jy sit en tob oor jou eks se nuwe romanse. Gryp liewer die geleentheid aan en doen iets waarvan jy altyd gedroom het. Dalk wil jy aandklasse loop, by die gim aansluit of ’n tweede werk kry sodat jy kan reis. Wat dit ook al is, nou is die tyd waarin jy dit kan doen.

Onthou, jy het ’n lewe gehad voor die verhouding. Begin weer met jou vriende kuier of drink ná werk ’n drankie. Jy sal dit binnekort so geniet, jy sal vergeet jy was ooit ontsteld.

© Cover Media