Jy kan nog altyd as pragtig beskou word sonder om ’n vloermat te wees. Net omdat jy nie alles los elke keer dat jou pel jou vir koffie nooi nie, beteken nie jy is ’n aaklige vriend of vriendin nie!

Is jy iemand wat jou oor ’n naweek kantoor toe haas as jou baas jou bel om ’n liasseerkabinet reg te pak? Of die een wat nooit iets drink wanneer julle uitgaan nie omdat jy telkens gevra word om die motor huis toe te bestuur? Stop! Kom op vir jouself!

“Om gaaf te wees is nie verkeerd nie! Ons moet net meer, wel, strategies word daaroor, ” het die psigoterapeut en lewensafrigter Jan Graham, skrywer van Live a Little Coaching, aan shape.com gesê.

Dit het baie te doen met liggaamstaal. Dit kan gek klink, maar as jy regop staan en vol selfvertroue lyk, kan dit ’n reuse verskil maak aan hoe jy vir ander mense voorkom. Arms wat gekruis is word outomaties gekoppel aan selfbeskerming en dit laat jou onmiddellik weerloos lyk. Ontspan liewer jou liggaam en lig jou skouers wanneer jy die kans kry om gesag uit te straal.

Nog ’n eersteklasmanier om meer selfvertroue te toon wanneer jy die slag moet “nee” sê, is om oogkontak te maak. Dit gee te kenne dat jy niemand gaan toelaat om jou besluit te bevraagteken nie. Hoekom nie oefen om senuagtigheid te oorkom wanneer jy voor ’n situasie te staan kom waar jy weet jy sal moet opstaan vir wat jy wil hê nie? “Daag jouself meer dikwels uit om jou bloot te stel en vir jouself op te staan, maar doen dit deur middel van strategie – nie op ’n manier wat jou gaan oorweldig nie,” stel Jan voor.

'Wees ook gawer teenoor jouself.'

As jou baas byvoorbeeld die een is wat onmoontlike eise stel (waaraan jy altyd aandag gee, selfs wanneer jy besig is om jou eie probleme uit te stryk), begin deur kleiner probleme aan te pak, byvoorbeeld deur jou kollega te verbied om jou kos in die yskas te eet. Of, as jy fisiek nie daartoe in staat is om ’n taak wat aan jou opgedra is, uit te voer nie, roer die kwessie aan deur vir wie ook al jou die opdrag gegee het, te sê wat jy kan doen in die tyd wat daarvoor ingeruim is. Moenie praat oor dit waarmee jy sukkel nie.

Wees ook gawer teenoor jouself. As jy enigiets waarmee jy besig is, laat staan sodat jy iemand eers kan help, beteken dit dat jy omgee en betroubaar is, maar jy kan hierdie eienskappe ook op ander maniere wys. Moenie bang wees om jou sê te sê nie, want dit kan veroorsaak dat jou kollegas en jou werkgewers jou meer sal respekteer as wat jy besef.

Om nee te sê is die grootste struikelblok wanneer dit kom by “maklik” wees – maar wat gebeur as jy, deur ja te sê, die ander mens in die steek laat? Jy moet weet, en jy moet ander mense laat weet, wanneer iets bokant jou vuurmaakplek is, want dit is nie noodwendig sleg om af en toe voorkeur te gee aan jou eie behoeftes nie. Jy kan dalk begin met “miskien” as jy nie die moed het om dadelik volstrek te weier nie.

’n Laaste gedagte: As jy jou omring met eendersdenkende mense, kan jy werklik jou uitkyk verbeter. Dit is nie verkeerd om ander mense se wenke te gebruik nie!

© Cover Media