Ek is sielsmoeg. Sielsmoeg om my sielsgenoot te soek en ek het besluit om vir eers op te hou. Ek kan nie meer onthou wie is wie nie. Niks is meer vir my snaaks nie. Ek lag te hard, ek voel te vet en ek begin dink ek moet eerder my geld op botoks spandeer as op kruideniersware.

Hoeveel keer kan mens vreemde mans ontmoet en vreemde stories aanhoor? Een keer? Vyf keer? Vyftien keer? Almal se foto’s begin vir my dieselfde lyk en ek begin dink dat my eks se vloek dat ek nooit weer liefde sal vind nie, waar gaan word. Eintlik is dit reeds waar!

“Jy moet jouself eers liefhê voordat ander jou kan bemin.” Ja, ja, het dit klaar gedoen. “Jy kan nie na jou sielsgenoot of liefde soek nie, liefde vínd jou.” Al hierdie gesegdes vloei soos water van die eend se rug. En tans is ek so moeg van op afsprake gaan en om in vreemde mans se vreemde gesigte vas te kyk dat ek nie eens meer kan onthou hoe dit voel om opgewonde te wees oor iemand nie.

Ek kyk die een foto na die ander op die liefdesoekwerf en ek weet nie meer waarvan ek hou nie. Ek weet nie meer wat ek wil hê nie. ’n Jong man? ’n Ouer man. ’n Man met blonde hare? Een met swart hare?

Wie weet?

Want ongeag wie ek kies, elke keer gaan ek alleen huis toe en wonder wat verkeerd is met my.

En ek raak al hoe ongeskikter. Al hoe korter van draad. Binnekort gaan ek ontplof in ’n kakofonie van gebreekte harte en gestorte trane. Almal se valse hoop en beloftes is besig om my vas te vang soos ’n spinnekopweb. Die man wat die sielsgenoot soek. Die ander een wat ’n vrou soek wat hou van sport. ’n Vrou in elke nartjie en ’n vrou in elke geur. Maar elke keer is dit nie ek nie.

Dalk voel ek volgende week beter. Hierdie week wil ek net huil. Want die rede waarom ek dink ek nie ’n sielsgenoot vind nie, is dalk net omdat my siel net eenvoudig nie daarin is nie. En dis wat ek hierdie naweek wil doen. Uitvind wie ek is. Waar my siel is. En hoe ek verder wil leef - alleen of hand aan hand. Dan weer, dalk lê die keuse nie eens by my nie. Dalk is dit ’n geval van die noodlot wat sal.

Of dalk is dit net my lot. Om altyd te bly soek.

Erla-Marie DiedericksErla-Mari Diedericks blog vir Huisgenoot oor haar lewe as enkellopende in die era van internet-afsprake. Sy is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by kalahari.com

* Stel jy belang in aanlyn-ontmoetings? Gaan na Huisgenoot se ontmoetingsportaal by http://www.pasmaats.co.za/s/

Lees Erla-Mari se vorige blogs:

Hier kom a vryer aangevlieg

’n Foto spreek 1 000 woorde

En hier word ek ’n vampier

Ek en die blommeverkoper

Die stories wat geskeide mans vertel!

Deur dagbreek toe – met Melkskommel-man

Ek verbeel my ek’s ’n cougar

Ek soek na liefde – aanlyn