Indien wel, moet jy dalk twee keer dink voor jy jou daaglikse dosis nuus kry terwyl jou maat langs jou lê.

Volgens ’n nuwe ondersoek bestee mense ál meer tyd met hul toestelle en laat dit geen ruimte vir seks nie.

Die navorsing toon sewe uit 10 vroue sê tegnologie meng met hul intimiteit in.

“Jy sien dit oral,” sê Sarah Coyne, ’n sielkundige by die Brigham Young-universiteit en ’n skrywer van die ondersoek.

“Soos by ’n restaurant waar albei lede van ’n paartjei hul foon daar by die tafel het. Ek dink dit is vir hulle baie maklik om dit op te tel wanneer dit gons.”

Die navorsers gee toe hulle het ’n klein monster van die samelewing ondersoek. Hulle het op 143 getroude of saamwonende heteroseksuele vroue gefokus. Die deelnemers is uitgevra oor hul gewoontes wat hul foon, TV, tablet en rekenaar betref en hoe hul lewensmaat tegnologie gebruik. Hulle is ook uitgevra oor enige konflik oor die gebruik van toestelle en algemene tevredenheid in hul verhouding en lewe.

Die grootste probleem het geblyk rekenaars te wees en selfone naasgrootste. En toe hulle vir die vroue vyf scenario’s gee, het amper twee derdes van hulle gesê ’n maat onderbreek minstens een keer per dag hul “ontspantyd” deur ’n foon op te tel.

Ander irritasies was onder meer om van ’n gesprek af te sluit omdat hy iets op TV kyk of om in die middel van ’n maaltyd of gesprek sy foon uit te haal. ’n Kwart van die vroue het ook gemeld hul maat stuur vir ander mense boodskappe terwyl hulle van aangesig tot aangesig met mekaar praat.

’n Kommerwekkende bevinding was hoe dit vroue laat voel het. Woordewisselings oor toestelle het oor die algemeen ’n swakker verhouding en laer tevredenheid met die lewe beteken.

“Dit is nie laf vir pare om reëls oor tegnologie te maak nie,” sê Sarah. “Net om die gesprek te hê oor wat aanvaarbaar is en wat nie wat toestelle by die tafel of in die slaapkamer betref, kan help.”

As dit ’n ernstige probleem vir jou verhouding word, moenie skroom om grense te stel nie. Stel minstens een aand per week voor waar julle albei die toestelle los en op mekaar fokus. As julle uitgaan, kan julle dit oorweeg om jul foon by die huis te los.

As jy die tegnologieslaaf is, probeer jou stadigaan daarvan losmaak. Sit jou foon buite bereik wanneer jou maat met jou praat en verbied enige toestelle minstens twee uur voor slaaptyd. Dit sal nie net meer tyd laat om saam met jou wederhelf deur te bring nie, maar jou ook beter help slaap.

© Cover Media