Deur Shané Barnard

1. Gun mekaar tyd om af te koel ná jul rusie

As julle gestry het, moet julle albei eers afkoel en nadink oor wat gebeur het. Gebruik dié tyd om vas te stel hoekom jy so ontsteld is en wat jy graag vir jou vriend(in) sal wil sê.

2.    Maak kontak

Bel jou vriend(in) of stuur ’n boodskap waarin jy verduidelik dat jul vriendskap vir jou belangrik is en dat jy graag die ding wil uitpraat.

3.    Sê jy is jammer

Dit maak nie saak wie die stryery begin het en of jy dink dit was nie jou skuld nie, sluk jou trots en sê jammer dat jy jou vriend(in) seergemaak het. Daar is ’n baie goeie kans dat hy of sy ook verskoning sal vra. Sê byvoorbeeld: “Ek is baie jammer dat ons so baklei. Kan ons oorbegin?” As dit jou skuld was, wees bereid om te erken jy was verkeerd.

4.    Praat daaroor

As jy graag vriende wil bly, is dit belangrik dat julle die probleem uitstryk. Gee jou vriend(in) kans om te verduidelik hoe hy of sy voel en luister met empatie. Wanneer jy praat, moenie ’n vinger wys nie; gebruik liewer sinne soos: “Ek het baie hartseer gevoel toe jy. . .” So sal jou vriend(in) nie voel jy verkwalik hom of haar vir julle uitval nie. Moenie uitmekaar gaan voor julle nie albei tevrede is die probleem is opgelos nie.

5.    Maak ’n vredeoffer

Gee jou vriend(in) ’n klein geskenk soos ’n sjokolade of ’n plantjie om te wys jy is opreg en dat jul vriendskap vir jou belangrik is.

6.    Keer terug na normaal

Probeer so gou moontlik ná jul gesprek jul verhouding hervat. Dit is belangrik dat julle weer mekaar se vertroue wen; moet dus nie jul rusie met ander bespreek nie.

Bronne: wikihow.com, ehow.com, bbc.co.uk