Lyk binne ’n oogwink glansryk met rokerige oë

Jy benodig: ’n swart kohl-oogomlyner, twee rokerige skadu’s, ’n aksentkleur en gitswart maskara.

Stap 1:

Omlyn die boonste en onderste ooglid met die swart oogpotlood. Trek die boonste lyn smaller na die binnehoek van jou oog en breër by die buitehoek.

Stap 2:

Wend ’n rokerige vaal skadu aan jou hele ooglid tot net bo die vou.

Stap 3:

Gebruik ’n skakering wat ’n bietjie donkerder is as die skakering wat jy op jou hele lid gebruik het, maar deel van dieselfde kleurfamilie. Smeer dit in die buitehoek van jou ooglid en skakeer dit uitwaarts en opwaarts in om ’n katoog-effek te skep.

Stap 4:

Beklemtoon jou wenkbroubeen en die binnehoek van jou oog met ’n aksentkleur en skep so die illusie van “wakker” oë. Wend dan ’n paar hale volumegewende maskara aan. En sommer net so is jy reg vir partytjie hou!

- Leigh van den Berg

Foto’s: Peet Mocke