’n Leser skryf sy woon in ’n deeltitelkompleks. Haar rus en vrede is daarmee heen nadat ’n lawaaierige restaurant naby haar woonplek oopgemaak het. Sy vra:

“Wat is my regte? Ek sal dit sekerlik nie eens kan verkoop of verhuur nie, want die geraas is net te veel!”

- Raadop, Gauteng

Hier is raad

Ja,-nee lawaai in jou woonomgewing, ongeag wat dit is, kan ’n groot doring in jou vlees word. Die leser sê nie of die probleemrestaurant binne of buite haar deeltitelkompleks is nie, maar kom ons kyk na albei moontlikhede.

Dis buite jou kompleks. Hoe nou?

Dis moeiliker om die saak op te los as die bron van jou irritasie buite jou woonkompleks is, want dan is dit nie onderhewig aan die Wet op Deeltitelskemas nie. Die gemenereg op bure is wel van toepassing. Die leser sal moet kan bewys dat die lawaai so hard is dat die plaaslike munisipale ordinansies oortree word.

Vra die munisipaliteit moet ’n inspekteur stuur wat die desibels sal meet, sê Marina Constas van BBM Ing. Prokureurs. As die desibels wel te hoog is, sal die munisipaliteit in ’n kennisgewing aan die lawaaimaker eis dat hy binne die wet bly.

Andersins kan die leser die hof om ’n bevel nader. Dit sal waarskynlik vinniger wees, maar duurder, meen Marina. ’n Hofbevel moet deur ’n prokureur aangevra word en kan voor ’n landdros gebring word. Die koste kan sowat R8 000 beloop as die aansoek nie teengestaan word nie, en tot R30 000 indien wel. As dit in die hooggeregshof draai, kos dit nog meer.

Die leser sal ook moet kan bewys dat die geraas uitermate steurend is. Sommige mense is byvoorbeeld meer klankgevoelig as ander. Die hof sal op grond van die bewyse bevind of ’n “redelike mens” die lawaai steurend sou vind.

Binne jou kompleks

Is die bron van die geraas binne die deeltitelkompleks? Dan geld die Wet op Deeltitelskemas. Artikel 44(1)(e) van die wet sê duidelik elke eienaar het die reg om ongestoord te woon.

Niemand mag ’n steurnis veroorsaak in sy eie eenheid, ’n eksklusiewe gebied of op ’n gemeenskaplike plek soos in ’n tuin nie. Geen eienaar mag toelaat dat iemand anders sy eiendom of die deel waarvan hy uitsluitlike gebruik het, hoegenaamd gebruik op ’n manier wat steurend vir ander inwoners sal wees nie.

Regtens mag die eienaar van ’n woonstel of meenthuis ook nie die eiendom gebruik vir enigiets buiten dit wat die deeltitelplan bepaal nie. Die meeste deeltitelplanne dui aan dat die doel van die kompleks wooneenhede is en dan kan dit vir niks anders gebruik word behalwe om daar te bly of dit uit te verhuur nie.

Tog laat die wet effens ruimte toe vir ’n onderneming, mits al die eienaars in die kompleks dit goedkeur.

Die leser kan by die trustees van die beheerliggaam kla as iemand oortree. Die trustees sal dan ondersoek instel en ’n waarskuwingsbrief aan die oortreder rig. Trouens, Marina sê die beheerliggaam is veronderstel om op te tree teen ’n eienaar wat geraas maak.

In sommige komplekse word die oortreders beboet. In die geval van herhaalde oortreders kan die saak ook opgelos word met arbitrasie ingevolge die wet se bestuursreël 71. Hier sal die beginsel van “redelikheid” weer geld.

Hoe meer bewyse van uitermatige geraas die klaer het, hoe beter die kans op sukses, in ’n hof of by ’n arbitrasieverhoor.

- Letitia Watson

Bron: Huisgenoot, 12/09/2013