“Tinder is hoe mense mekaar ontmoet. Dis soos die regte lewe, maar beter,” volgens hul slagspreuk – wat waarskynlik is hoekom die afspraak-app die eerste keuse geword het vir mense wat moeg is daarvan om op die gewone manier ’n maat te probeer soek. 

Dit stel met jou slimfoon se GPS vas waar jy jou bevind en belangstellendes in jou gebied kan dan na jou profiel kyk. 

Laai net ’n paar foto’s van jou en skryf ’n slim beskrywing, en jy is dalk binnekort op koers om ewige liefde te vind (of net liefde vir die aand, na gelang van jou behoeftes . . .) 

Aangesien alles op Tinder oor eerste indrukke gaan, is dit belangrik om dit reg te kry as jy jou volmaakte pasmaat wil vind. Huisgenoot het met drie kenners gepraat oor hoe jy jou kans op sukses kan verbeter. 

Kies die regte foto

Shannon Davidoff 

Shannon, uitvoerende hoof van Perfect Partnership Search Service, raai gebruikers aan om hulself soos ’n handelsmerk te benader.

Onthou dat jy die hoofkarakter in jou eie rolprent is. Foto: Getty Images

“Jou voorkoms en die foto’s wat jy kies, is jou eie persoonlike handelsmerk. Dit sal bepaal of iemand in jou belangstel.”

“Moenie ’n groepfoto saam met vriende as jou eerste foto plaas nie,” waarsku sy. “Niemand sal weet watter een op die foto jy is nie.”

Moet nie ’n groepfoto as ’n profielfoto gebruik nie. Foto: Getty Images

“As mense moet moeite doen om uit te vind hoe jy lyk, sal hulle elders kyk,” sê Shannon.

“Jy is die hoofkarakter in jou eie rolprent.”

Die ideale profielfoto is een waarop jy ‘in die oomblik’ is. Foto: Getty Images

“Jou foto kan ook leidrade verskaf oor jou belangstellings. Sluit gerus jou troeteldier by jou profielfoto in of plaas ’n foto van jou by die Eiffeltoring as jy van reis hou.”

Sy voeg by selfies kan impliseer dat jy ’n narsis is; ’n foto wat iemand anders van jou geneem het, werk altyd die beste.

Dr. Zenia Barnard

Zenia was deel van die Searcher’s-program op die DStv-kanaal VIA as kenner daaroor om mense bewus te maak van die beeld wat hulle aanlyn uitstraal. 

“Die aanlyn landskap gaan oor interaksie en dit vind binne ’n kwessie van sekondes plaas.”

“Mense wil met jou kontak maak op grond van gemeenskaplike belangstellings en voorkeure,” sê sy.

“Maak seker jy maak oogkontak met die kamera. Moenie ’n donkerbril dra nie.”

Om te glimlag is altyd goed. Foto: Getty Images

“Jou oë is altyd die poorte na jou siel. Mense leer dadelik iets oor jou persoonlikheid deur van naby in jou oë te kyk.”

Zenia voeg by ’n goeie profielfoto is ’n kop-en-skouersfoto waarop jy glimlag. 

“Mense wil sien jy is nie ’n brompot nie. Die ideale profielfoto is een waarop jy ‘in die oomblik’ is.”

Hannon Bothma 

Die Glam Guru sê om jou filosofiese kant op ’n foto uit te beeld, is ook ’n ideale manier om ’n maat te vind. 

“Plaas ’n foto waar jy met ’n glas rooi wyn sit of een wat in ’n boekwinkel of in die kombuis geneem is.

“Dit wys jy het ’n dieper kant, byvoorbeeld dat jy van lees, kook of ’n genotvolle tyd saam met ander mense hou.”

Beel jou filosofiese kant op ’n foto uit. Foto: Getty Images

Raad vir vroue

In raad spesifiek vir vroue, beveel Shannon aan jy gebruik altyd ’n nuwerige foto van jouself.

“Gebruik altyd ’n onlangse foto, nie een wat 20 jaar gelede geneem is toe jy 20 kg ligter was nie. Veral vroue is skuldig hieraan,” sê Shannon.

“Maak seker jy lyk op jou beste, maar moenie te veel grimering dra nie, want hulle kan dink jy probeer iets wegsteek.”Hannon voel ook min grimering is ’n moet wanneer jy ’n profielfoto neem. 

Sy raad vir ’n suksesvolle profielfoto is ’n bietjie maskara, blosser en dalk ’n ligte lipglans om jou natuurlike skoonheid na vore te bring. 

Jy kan lyf wys, sê Hannon, maar verkieslik op ’n plek waar dit natuurlik is om dit te doen, soos op die strand – nie ’n selfie in die badkamer nie. 

Raad vir mans

Die kenners se raad vir mans is dat hul foto’s sekere eienskappe oor hulle moet wys. 

Dit moet wys wat jou belangstellings is en waaraan jy graag jou tyd bestee. ’n Potensiële maat sal dadelik belangstel in ’n man met wie sy iets gemeen het. 

Dit is goed om te wys jy het ’n sosiale lewe en vriende, maar maak seker jy is steeds die hooffokus op die foto. ’n Foto van waar jy kook of iets kunstigs doen, soos ’n instrument bespeel of skets, gee jou en ’n potensiële maat dadelik iets om oor te praat.

Dis goed om te wys jy het ’n sosiale lewe. Foto: Getty Images

Oor hoe mans en vroue op Tinder-profiele reageer, sê Zenia terwyl mans meer geneig is om ’n toekomstige maat se foto’s te bestudeer, stel vroue meer belang in hoe potensiële maats hulself opsom. 

“Wees altyd eerlik.”

“As jy net in ’n los gelukkie belangstel, moenie skaam wees om so te sê nie. Daar is mense wat dieselfde voel.”

“Moenie spelfoute maak nie,” maan sy. “Dis net dom.”