Jy sal waarskynlik minder eet, minder slaap en minder uitgaan. Dit is normaal om tyd te vat om jouself te troos, maar daar is stappe wat jy kan neem om die proses so vinnig en pynloos moontlik te maak.

Vermy ’n slegsêery

Jy sal natuurlik jou gevoelens wil uitdruk – veral as die verhouding sleg geëindig het, soos omdat jou maat jou verkul het. Maar moenie in die hitte van die oomblik nare goed oor jou eks kwytraak nie, veral nie tussen gemeenskaplike vriende nie. Bly trouens weg van iemand aan wie julle albei geheg is, want dit kan vir al die betrokkenes ’n bietjie ongemaklik wees. As jy regtig moet stoom afblaas, skryf neer hoe jy voel en skeur dan die papier op of praat met iemand wat jy volkome vertrou, soos ’n ouer of ’n baie goeie vriend. As enige swartsmeerdery by jou eks uitkom, sal dit net vyandigheid veroorsaak.

Bly van sosiale media af

Dis ’n groot taboe om op Facebook of Twitter iets te plaas oor ’n verbrokkelde verhouding. Die meeste mense sal weet om nie direkte verwysings te plaas oor die eks of wat gebeur het nie, maar selfs skimpe soos kriptiese hartseer lirieke is nodeloos. Dit sal net maak dat mense bespiegel en by iets betrokke raak wat veronderstel is om privaat te wees. Hou ook op om na jou eks se blaaie te kyk. Foto’s van hulle op ’n wilde aand uit of ’n flirterige boodskap kan maak dat jy hulle kwaad konfronteer, terwyl dit glad nie meer jou besigheid is nie. As dit nodig is, blokkeer hulle ’n ruk of bly van sosiale media weg terwyl jou hart heel word.

Versorg jouself

Die eerste paar dae sal moeilik wees: Jy wil jou dalk ooreet of glad nie aan kos raak nie. Dalk slaap jy heeldag of kan glad nie afskakel nie. Maar jy is nou jou grootste prioriteit, en jou gesondheid is die belangrikste. Praat soveel as wat jy moet en berei gesonde maaltye. En onthou, dit is ’n nuwe begin net soos wat dit die einde van iets is. As jy al ’n ruk lank by ’n gim wou aansluit, doen dit nou. Of kleur jou hare die kleur wat jy nog altyd wou beproef het.

Moenie wraak neem nie

Dit is natuurlik om jou te wil wreek as ’n uitmakery nie goed afgeloop het nie. Wat jou eks ook al gedoen het om jou seer te maak, sal die eerste paar weke rou wees. Jy sal jou eks waarskynlik so sleg wil laat voel soos wat jy voel. Maar dit is nou die tyd om die beter mens te wees. Enigiets wat jy doen om die ander mens terug te betaal, sal nooit die verlangde uitwerking hê nie. As jy eerlik is met jouself, is dit jy wat moet beter voel en nie hulle wat moet slegter voel nie. Fokus op goed doen waarvan jy hou. Dit sal jou die hartseer te bowe help kom.

© Cover Media