Dr. Kitae Sohn, van die Konkuk-universiteit in Seoel, Suid-Korea, ontleed data wat gedurende ’n langtermyn-bevolkingsoorsig by 7 850 vroue versamel is. In die studie is bevind ’n langer man word regstreeks verbind met die geluk van die vrou, maar die uitwerking vervaag met verloop van tyd.

“Hoewel dit algemene kennis is dat vroue verkies om -- om evolusieredes -- met lang mans te ‘paar’, is daar nog nooit nagevors of ’n lang man sy vrou gelukkiger maak nie,” het Kitae in die tydskrif Personality and Individual Differences verduidelik.

“ ’n Groter verskil in die lengte van die paartjie is positief verbind met die vrou se geluk."

“Teen die tyd dat die verhouding 18 jaar gevorder het, het die korrelasie tussen geluk en lengte egter ‘heeltemal verdamp’.

"Gelykstaande aan die voorkeur wat sekere mense het vir vet-, sout- en suikerryke kos"

“Die lang verdampingstydperk is nietemin ’n aanduiding van die kragtige uitwerking van mans se lengte op die vroulike psige, en dit is moontlik deur evolusie voorberei,” het hy bygevoeg.

“Nommer een is die intrinsieke waarde van lengte; dit beteken dat vroue eenvoudig van lang mans hou, hoewel hulle nie kan redes verskaf waarom nie.

"Dit is gelykstaande aan die voorkeur wat sekere mense het vir vet-, sout- en suikerryke kos sonder dat hulle weet hoekom dit so is: hierdie kossoorte was noodsaaklik vir oorlewing, maar dit het skaars geword soos die mense ontwikkel het; daarom het die smagting na hierdie voedselsoorte die geskiktheid vir voortplanting in die verlede verhoog.

“In dieselfde trant het vroue se voorkeur vir lang mans die vroue se geskiktheid vir voortplanting verhoog.”

Kitae het ook ’n verskeidenheid van redes voorgelê wat daartoe sou kon lei dat lengte nie die geluk van vroue op die lang termyn kan waarborg nie. Volgens hom kon die vrou eenvoudig gewoond geraak het aan haar man se lengte.

“Of sy kon miskien die karaktertrekke, soos skoonheid, verloor het wat haar in staat gestel het om met haar lang man te trou. Die verlies kon direk of indirek bygedra het tot die veranderings in haar man se gedrag, soos: hy betoon byvoorbeeld minder liefde aan haar, hy betoon meer toegeneentheid aan ander vroue, of hy raak traer om die kinders te versorg,” het hy bygevoeg.

© Cover Media