Wanneer jy in ’n groef vasgeval het, sal jy waarskynlik wens daar is die een of ander formule vir geluk. En dit is presies wat wetenskaplikes aan die Universiteitskollege van Londen wou vind.

As deel van die ondersoek is 26 deelnemers gevra om tussen veilige en riskante opsies te kies wat tot geldelike wins of verlies sou lei. Hul breinaktiwiteit is heeltyd gemeet en die mense is oor hul vlak van geluk uitgevra.

Die deelnemers se antwoorde is gebruik om ’n speletjie van vyf minute te skep wat

die navorsers as die slimfoon-app The Great Brain Experiment bemark het. Daarmee het hulle die uitslae van 18 420 spelers wêreldwyd gekry. Gevolglik kon hulle ’n vergelyking opstel wat mense se geluk kan voorspel gegrond op die wen van punte pleks van geld.

“Ons het probeer verstaan hoe geluk van oomblik tot oomblik verander,” sê dr. Robb Rutledge, die hoofskrywer van die ondersoek. “Ons het geweet wat in die brein gebeur wanneer mense beloon word, maar ons het nie geweet hoe daardie goed met ’n mens se emosionele stand verband hou nie.”

Die resultaat was dat laer verwagtings in werklikheid tot groter geluk kan lei. Gebeure wat die verwagting oortref het, het die deelnemers besonder goed laat voel.

“Ons het verwag om te sien dat onlangse belonings oomblik-tot-oomblik-geluk kon beïnvloed, maar was verras om te vind presies hoe belangrik verwagtings is by die bepaling van geluk,” sê Robb.

“Die lewe is vol verwagtings. Daar word dikwels gesê jy sal gelukkiger wees as jou verwagtings laer is. Ons het gevind daar steek ’n mate van waarheid in.”

Daar is ook bevind die onlangsste ervarings van beloning en verwagtings beïnvloed geluk die meeste en dit kan van oomblik tot oomblik verander.

Maar aan die ander kant kan die blote verwagting dat iets kleins prettig of positief kan wees ook beïnvloed hoe jy voel. Om te beplan om saam met ’n vriend by ’n restaurant te gaan koffie drink, kan jou laat goed voel bloot omdat jy daarna uitsien – moet daarom nie dink dit gaan net daaroor om die slegste te verwag nie! Eerder dat die uiteinde na ’n lekker verrassing sal lyk as jou vewagtings effens laer is.

“Verwagtings het ’n baie kragtige uitwerking op geluk. As jy nie goeie verwagtings het nie, kan jy nie goeie besluite neem nie,” voeg Robb by.

© Cover Media