Dan word die vakansie ’n groter foltering as vreugde.

Met die nodige beplanning kan jy dit egter oorleef en dit boonop geniet. Ons het by twee kenners gaan kers opsteek.

Koester die oomblik

Die eerste en belangrikste ding om te doen wanneer jy hoor gaste is op pad, is om seker te maak jy is reg ingestel.

“Kry jou gemoed reg,” sê Marlene Booyens, ’n leefstylafrigter van Bellville.

“As dit gaste is saam met wie vorige kuiers rampspoedig uitgedraai het, maak ’n lys van dit wat skeefgeloop het en kyk hoe jy die komende besoek anders kan hanteer.”

Familie en vriende is die diamante in ons lewe, sê Evette Kruger, ’n leefstylafrigter van Johannesburg.

“Dit is hierdie mense wat die lewe die moeite werd maak. Elke oomblik is een wat ons nooit sal terugkry nie; neem daarom elke oomblik van die kuier in en gee aandag aan die dinge wat ons lewe verryk. Verwelkom jou gaste met ope arms, laat verskille opsystaan en geniet die geselskap, die reuk van braaivleis en ons warm someraande.”

En lag natuurlik hard saam!

Pasop vir taboe onderwerpe:

Weet waar die slaggate is, en hou jou – en jou tong – daaruit. Almal stem nie altyd saam oor sensitiewe sake soos maatskaplike vraagstukke nie; daarom sal daar altyd onderwerpe wees wat liefs in gesprekke vermy moet word, waarsku Marlene.

“Bly eerder weg van geselsies oor die politiek, geloof, geld of enige ander swaarmoedige onderwerpe.”

Respekteer mekaar se persoonlike lewe. Dit is glad nie nodig om neef Koert uit te vra oor sy onlangse verbreekte verlowing as hy nie daaroor wil praat nie of om te vis wanneer sus Sarah dan nou eindelik ’n pienkvoetjie gaan hê nie, al is sy al drie jaar getroud.

“Onthou, die doel van die kuier is om dit te geniet en te ontspan,” sê Marlene. “Kuier en lag . . . Lag sommer baie!”

O wee! Wat gaan ons doen?

Soveel siele, soveel behoeftes. Wanneer een die pretpark wil besoek, wil die ander eerder gaan fliek. Dit is onnodig om dikmond te raak hieroor, want die hele familie hoef nie heeltyd presies dieselfde roetine te volg nie.

“Maak ’n lys van aktiwiteite en besienswaardighede in jou omgewing en bespreek dit met jou gaste,” sê Evette. “Dit help irritasie en frustrasie temper.”

Wanneer jou gaste alleen uitgaan, gee dit jou natuurlik die geleentheid om ’n blaaskans te neem.

Maak van die kombuis ook ’n kuierplek

Moenie toelaat dat jy in die situasie beland waar jy jou heeltyd voor die stoof afsloof sodat die gaste net kan aansit nie. Samewerking is die wagwoord.

“Laat jou gaste toe om jou te help kos maak,” sê Evette. “Werk ook saam aan maaltydbeplanning, soos met die opstel van ’n daaglikse spyskaart.”

Marlene wys daarop dat gaste meer tuis voel as almal saamwerk en dit ’n spanpoging is om kos op die tafel te sit. “Jy kan so ook heerlik saamkuier.”

Nog raad van haar kant is om gaste so selfversorgend moontlik te maak. “Wys hulle waar alles in die kombuis is sodat hulle vir hulself drink- of peuselgoed kan kry. Jy hoef nie heeltyd kelner te speel nie.”

En ja, almal moet hand bysit om op te ruim en die skottelgoed te was.

Die algemene dinge

Evette en Marlene gee ook die volgende algemene wenke:

  • Kry jou huis voor die gaste opdaag skoon en aan die kant.
  • Moenie die badkamer afskeep nie. Sorg vir genoeg handdoeke, toiletpapier, lyf- en handeseep.
  • Rig jou gastekamer gesellig en prakties in. Maak plek waar gaste hul klere kan hang en tasse en sakke kan berg. ’n Bedlamp is altyd ’n goeie idee, asook leesstof langs die bed.
  • Gee jou gaste hul eie stel huissleutels sodat hulle kan kom en gaan soos hulle wil.
  • Wys hulle hoe die TV en ander elektroniese toerusting werk.
  • Vermy onnodige skottelgoed.
  • Wees eerlik oor huisreëls, soos waar gerook mag word, waar skottelgoed neergesit moet word of hoe wanneer en lank die lugreëling aangeskakel kan wees. As jy ’n beperking het op sekere items, byvoorbeeld een toiletrol of twee brode wat heeldag moet hou, deel dit met jou gaste.

Wenke as jy by iemand gaan kuier

  • Daag met ’n geskenk op.
  • Dra by tot daaglikse uitgawes, byvoorbeeld kruideniersware.
  • Maak seker jy weet wat die huisreëls is.
  • Gun jou gasheer en -vrou hul persoonlike ruimte.