Klets – dis mos iets wat ons almal van kleins af doen. Nou hoekom voel dit dan soms asof ons weer twee jaar oud is wanneer ons met ’n vreemdeling gesels? “Dis nie altyd maklik om praatjies te maak nie, wat nog te sê met mense wat jy van g’n kant af ken nie,” sê Lily (16).

Daarom, sê die kliniese sielkundige dr. Traci D, moet jy jou geselsvaardighede slyp. En probeer is die beste geweer: daarom, sê sy, moet enigeen wie se senuwees knaag by die blote gedagte daaraan om met ’n vreemdeling te praat, deurdruk en aanhou probeer sodat jy eendag die vrugte van ware selfvertroue kan pluk.

“Ware selfvertroue is belangrik, want dit wys jy het ’n gesonde selfbeeld en voel positief oor die wêreld en jou plek onder die son,” sê sy.

Wil jy leer gesels?

Volg dr. Traci se wenke, en verander in ’n japtrap van randeier tot kletskous

1 Hou die persoon met wie jy wil gesels dop om vas te stel of hulle “oop” is vir jou.

Die beste manier om dit te doen is om na hul lyftaal te kyk. As hulle glimlag, met ander mense praat en hul arms nie gekruis is nie, is die kans goed dat hulle met jou sal terugpraat.

2 Stel jouself met selfvertroue voor, en sê: “Hallo, ek is Lily.”

3 Begin die gesprek met ’n alledaagse onderwerp.

Praat oor iets wat onlangs gebeur het (’n algemene onderwerp is goed) soos ’n fliekpremière of musiek. Dit kan so eenvoudig wees soos om te vra: “Het jy al The Social Network gesien? Wat het jy daarvan gedink?” Die geheim hier is om vrae te vra wat die ander persoon sal aanmoedig om terug te praat.

4 Luister met aandag na die persoon se antwoord.

Dis belangrik, want jy plaas die ander persoon in ’n kwesbare posisie deur jou vraag te vra. As jy nie aandag gee en luister nie, kan dit baie ongemaklik wees vir enige skamerige mens, of iemand wat nie baie selfvertroue het nie – en dan gee hulle jou dalk nie weer die kans nie.

5 Gebruik jou gespreksgenoot se woorde in jou antwoord om te wys jy stel belang, en volg dit op met nog ’n vraag oor hulle.

Mense hou daarvan om oor hulself te praat, daarom sal hierdie wenk help om die ys te breek. Gestel die ander persoon sê iets soos: “Ek was MAL oor The Social Network. Ek kan nie glo die ou wat Facebook begin het, het geen vriende nie!” Dan kan jy sê: “Ek weet! Dink jy ook dis vreemd dat Justin Timberlake se karakter nou sewe persent van die maatskappy besit? Dis ’n fortuin vir amper niks doen nie!” As jy meer vrae op ’n selfversekerde, maar ontspanne manier vra, sal die ander persoon geïnteresseerd bly en gemakliker begin voel.

6 Hou die gesprek aan die gang as jy van die persoon hou deur te luister, daaroor na te dink en dan met belangstelling te reageer.

Lug jou eie opinies om te wys jy is ook gemaklik daarmee om iets oor jouself te deel.

 Dr. Traci se moenies

  • MOENIE iemand onderbreek wat diep in gesprek is met iemand anders nie – veral nie iemand wat jy nie ken nie. Wag jou beurt af.
  • MOENIE gesprekke met jou eie agenda begin en ander se belangstellings ignoreer nie. Moet byvoorbeeld nie lostrek met ’n gebabbel oor jou jongste Twilight-obsessie as jy jou nog nie eens behoorlik voorgestel het nie.
  • MOENIE tekens van gespreksgenote ignoreer as dit lyk asof jou onderwerp hulle verveel of dalk beledig nie. Dit kan enigiets wees van ’n suur kyk, ’n stilte, of ’n poging om te probeer wegbeweeg van jou af.
  • MOENIE iemand oordonder en heeltyd praat oor iets waaroor jy passievol voel nie, behalwe as hulle net so passievol is soos jy.
  • MOENIE as jy sukkel terugval op sosiale netwerke soos Facebook en MXit nie. Voer jou gesprekke in lewende lywe – dis baie beter as ’n emoticon. =)

 Nog wenke

Probeer die volgende ysbrekers as jy baie skaam is:

  • Oefen dr. Traci se ses stappe met vriende of familie, of selfs voor die spieël.
  • Werk daaraan om jou grense daagliks te verskuif. Hou dit eenvoudig, soos om hallo te sê vir iemand wat jy nie ken nie.
  • Probeer om daai stemmetjie te ignoreer wat kop uitsteek wanneer jy skielik voel of jy geen selfvertroue het nie. Verban negatiwiteit en woorde soos “kan nie” of “sal nie” en vervang dit met positiewe denke soos: “Ek is ’n gawe mens, en daarom . . .” of selfs: “Ek is koeëlvas. Ek kan dit doen.”

 LILY VRA . . .

Moet jy tou opgooi as iemand anders se lyftaal nie verwelkomend is nie?

Dr. Traci antwoord . . .

As jy duidelike tekens kry dat jy nie welkom is nie, moet jy dit laat vaar. Maar as jy steeds die persoon beter wil leer ken, kan ’n geselsie dalk tog hul ysige fasade laat smelt.