Dis jou eks. Jou hart gaan staan vir ’n oomblik. Hy mis jou. Jou hart trek saam. Jy mis hom ook.

Is dit ’n teken dat julle bestem is vir mekaar, al gebeur wat ook al? Of is daardie steekpyne van berou slegs deel van die rouproses?

“Daar volg altyd ’n aanpassingstyd nadat jy in ’n verhouding was,” verduidelik Cheryl Sol, ’n kliniese sielkundige van Durban.

“As dit moeilik is, kan dit makliker voel om terug te gaan en die ‘duiwel wat jy ken’ te verdra, pleks van om met ongelukkigheid te worstel. Party mense worstel met verlies en kan nie die intense gevoelens beheer in die aanpassingstyd tot hulle oor iemand gekom het nie.”

Volgens dr. Elmari Mulder Craig, ’n verhoudingskenner en seksuoloog, stam hierdie gevoelens moontlik uit medeafhanklikheid en eensaamheid.

Pleks van erken wat julle uitmekaargedryf het, kan jy nie help om die goeie dinge te onthou en die redes waarom julle in die eerste plek uitmekaar is, te vergeet nie, verduidelik sy.

Lees ook: Man skryf ope brief aan ander mans in die versoeking om te kul: ‘Moenie soos ek met spyt saamleef nie’

Dit kan natuurlik bemoeilik word deur jou eks wat op jou gevoelens speel en belowe dat alles hierdie slag beter sal wees, voeg sy by.

Maar gestel dis regtig die beste raad?

Jy moet eerstens gaan sit en ernstig met jou eks gesels.

“Wat jy ook al doen, dieselfde dinge gaan nie werk as jy nie nadink oor wat skeefgeloop het en hierdie probleme uitstryk nie,” sê Cheryl.

Daar was in die eerste plek ’n rede waarom julle paaie geskei het; kan julle dié probleme oplos? Is hy of sy bereid om te verander? Is jy?

Bygesê: Jy moet verantwoordelikheid aanvaar vir jou aandeel in die verbrokkeling van die verhouding, voeg Cheryl by.

As julle twyfel, praat met mense wat julle albei ken, is Cheryl se raad. Jou geliefdes se mening oor hom of haar is dikwels ’n goeie aanduiding of hy of sy wel die regte een vir jou is of nie.

“As al jou vriende of familie nie hou van jou eks of die invloed wat hy of sy op jou het nie, is dit wel raadsaam om nog ’n keer te dink of jy behoort terug te gaan.

As jou vriende en familie die groen lig gegee het, maar julle sukkel om ou probleme op te los, meen Elmari berading vir pare kan die probleem oplos, veral vir eks-huweliksmaats.

Lees ook: Sjarmante man vra sy meisie op ’n unieke manier om haar hand

“Ek dink professionele hulp is altyd ’n goeie idee. Die probleme wat in die verhouding bestaan het, sal altyd daar wees en dit moet aangeroer word sodat die verhouding ’n kans kry om te werk.

Na gelang van die rede waarom julle uitmekaar is, kan een of albei nou sukkel met vertrouenskwessies. Dit moet ook aandag kry.

Julle sal wel eindelik weet of julle die vlammetjie moet aanblaas of nie.

Cheryl gee die volgende wenke om jou te help om sterk te staan wanneer die verhouding ooglopend nie goed is vir jou nie, maar jy bang is jy sal op die ou end tog maar teruggaan.

  • Maak ’n lysie van alles wat daartoe bydra dat hierdie verhouding sleg is vir jou of skryf ’n brief wat jy nie gaan stuur nie en wat lui: “Ek sê vir jou vaarwel, omdat . . .” en noem al die redes op. Lees dit gereeld.
  • Jy gaan nooit aanbeweeg as hierdie persoon aanhoudend in jou nuustoevoer opduik nie. Moenie hom of haar op Facebook, Twitter of enige sosiale media volg nie. As julle in aanraking bly, belemmer dit jou vooruitgang en maak dat jy begin wedywer om hom terug te kry. Probeer om geen kontak met jou eks te hê nie. Dit strem jou vordering.
  • Om jouself uit ’n langtermynverhouding te kry, kan natuurlik baie papierwerk verg. Handel die praktiese redes af wat jou kan noop om terug te gaan, sê Sol. Het hy of sy jou finansieel gesteun of jy hom of haar? As dit ’n formele reëling soos ’n huwelik is, moet julle beraadslaag oor onderhoud, ens. Beskou hierdie take as ’n prioriteit om jou te help om aan te gaan met jou lewe.
  • Daardie klomp geliefdes wat nie so erg was oor jou eks nie? Bring tyd saam met hulle deur sodat hulle jou besluit kan help bevestig en steun.
  • Jy gaan vir ’n rukkie eensaam, hartseer of kwaad voel; aanvaar dit en besef dis nie ’n teken dat jy die verkeerde keuse gedoen het nie. Gebruik hierdie tyd om jouself te leer ken en verstaan, en uit te vind wat jou beter laat voel, sê Sol. Daar is geen kitsoplossing nie. Jy moet verwag dat jou buie vir ’n ruk wipplank sal ry. Kry hulp wanneer jy terneergedruk voel.
  • Moet jou ook nie begin bekommer dat jy nooit weer enigiemand sal ontmoet nie. Jy sal.

Onthou net: As jy dit genoeg tyd gun, kan jy van enigiemand vergeet