Die woord “narsis” word deesdae sommer maklik gebruik om enigeen te beskryf wat te veel ego wys of ydel is. Maar ware narsiste is ’n heel ander geval – dis mense wat heeltemal selfgesentreerd is, ongeag met wie of waaroor hulle praat.

Hulle is meer geneig om skaam as skuldig te voel, kan nie behoorlik empatie toon nie en sukkel gewoonlik om bevredigende verhoudings te vorm. Hulle kan ook nie mense hanteer wat hulle nie bewonder nie, reageer goed op vleiery en kan nie ander se oogpunt insien nie. Klink na ’n wenner, of hoe?

Die probleem is dat dit nie altyd onmiddellik duidelik is wanneer iemand ’n narsis is nie, veral omdat daar grade daarvan is. Wat op ’n eerste afspraak dalk na sexy selfversekerdheid lyk, kan ná ’n paar maande verander in egoïstiese neerbuigendheid. Spaar dus die tyd en moeite; dit is goed om vroeg reeds na die gevaartekens op te let.

Eers het dit beteken die persoon moet ’n vraag-en-antwoordsessie van 40 dele voltooi. Dis nou nie juis ’n subtiele uitweg nie, want dit staan bekend as die Narcissistic Personality Inventory (NPI).

Mense moet kies tussen twee stellings soos: “Ek verkies om in die skare weg te raak,” of: “Ek hou daarvan om die middelpunt te wees.” Daar was geen middeweg nie; een kant moet gekies word.

Terwyl dit goed gewerk het, was dit tydrowend. Dit is waar nuwe navorsing wat Woensdag op plosone.org gepubliseer is, nuttig te pas kom.

Sara Konrath van die Universiteit van Michigan het ’n studie gelei wat blykbaar toon net een vraag is nodig: In watter mate stem jy saam met die stelling “Ek is ’n narsis?” (Let wel: Die woord narsis beteken egoïsties, selfgesentreerd en ydel.)

Die ekstra bietjie inligting is ingesluit sodat al die deelnemers seker kon wees waaroor hulle gevra word. Hulle moes hul antwoord op ’n skaal van een tot sewe plaas, en die navorsers het agtergekom die punte stem ooreen met die uitslae van die NPI-toets.

Om seker te maak is nog toetse uitgevoer om meer te wete te kom oor ander dele van die deelnemers se persoonlikheid, soos hoe aggressief of seksueel avontuurlustig hulle is. Weereens het die punte ooreengestem.

Hoekom? Daar word beweer narsiste is eerlik oor hulself omdat hulle narsisme nie as ’n probleem beskou nie.

Dit kan moeilik wees vir ander om te verstaan, veral omdat die navorsers bevind het die meeste mense verkies basiese belonings (soos om ’n spesiale soort kos te eet) bo sosiale belonings, soos om met vriende te kuier.

“As jy ’n narsis vertel hy vaar nie goed met interpersoonlike verhoudings nie, sal dit hom nie juis ontstel nie,” sê Brad Bushman, ’n sielkundige aan die Staatsuniversiteit van Ohio.

Hy het met die time.com-skrywer Jeffrey Kluger gepraat oor sy boek The Narcissist Next Door. “Maar as jy hulle vertel hulle is nie slim nie, raak hulle kwaad.”

© Cover Media