Een van die frustrerende aspekte van gemeenskaplike woonplekke is raserige, wanordelike bure wat die deeltitelreëls verontagsaam. Die skuldiges is dikwels huurders of ’n afwesige eienaar.

Soms word trustees onder druk geplaas om op te tree. Die gewone prosedure is om die eienaar te versoek om sy huurder in die bek te ruk. Maar wat gebeur wanneer die huurder weier om in sy spoor te trap? Kan die beheerliggaam hulle laat uitsit?

Kortom, nee, sê Francois Venter, direkteur van Jawitz Eiendomme, want die huurder word nie kontraktueel verbind deur ’n ooreenkoms met die beheerliggaam nie; net met die eienaar van die eiendom.

Maar hulle kan die deeltitelreëls afdwing.

Lees ook: Huisoppassers: Hier is wat jy moet weet

“Die beheerliggaam het die volste reg om aan te dring alle huurders voldoen aan die deeltitelreëls en het selfs die mag om die oortreder te beboet en die boete te verhaal as dit in die reëls gestel word.”

Volgens Tiaan Smit, ’n vennoot by die regsfirma Smith Tabata Buchanan Boyes, kan die beheerliggaam ook regstappe teen die eienaar of verhuurder van die eiendom doen as die huurder ’n gedragsreël oortree het.

“Hulle kan aansoek doen om ’n hofbevel wat die huurder verplig om die reëls te gehoorsaam,” sê Tiaan. “As die huurder nie daaraan voldoen nie, kan die beheerliggaam aansoek doen om ’n bevel waarvolgens hy of sy die hof minag en ’n lasbrief vir inhegtenisneming magtig.”

Maar dit is ’n taamlik drastiese stap en soms is die beste benadering om bloot aanhoudend die saak onder die eienaar se aandag te bring.

In ’n kompleks in die Kaapse stadskom het ’n eienaar ’n woonstel vir sy dogter gekoop wat toe nogal ’n hand vol was.

Lees ook: Ruim op en spaar geld

Van haar oortredings was ongewoon harde stemme en musiek tot laatnag en ’n kloppery aan bure se deur enige tyd van die dag of nag om alles van suiker en koffie tot waspoeier en versagmiddel te leen.

Boonop het sy elke keer dat sy haar afstandbeheerder vir die parkeerplek se hek vergeet het, bloot uit haar motor geklim en die hek van sy spoor afgelig sodat sy kon inkom. Dan het sy die hek heelnag oop laat staan met haar motor in die straat geparkeer.

Erger nog: Sy het ’n wassery uit haar woonstel bedryf. Met dié dat die woonstel een van twee grondvloer-eiendomme was, het sy ’n klein tuin gehad.

Sy het ’n wasgoedlyn gespan wat van die boonste woonstelle af sigbaar was, wat teen die reëls is. Om nie eens daarvan te praat dat sy gedurig die een gemeenskaplike wasgoedlyn vol gehang het nie met die gevolg dat die ander huurders nêrens gehad het om hul wasgoed droog te maak nie.

“Die beheerliggaam het met ’n strategie begin om ’n doring in die eienaar se vlees te wees deur hom met klagtes te bestook. Later het die eienaar die plek verkoop en sy dogter moes trek,” sê Francois.

Bron: Claire Densham Communications