Hoeveel keer het jy dit nie al gehoor nie: “Wat ook al jy doen, moet net nie tou opgooi nie.” En dis goeie raad, veral as jy daarvan droom om vir Nasa te werk, of dalk soos Justin Bieber te sing. Maar is dit oukei om soms weg te stap van iets wat nie vir jou werk nie?

Ja, sê die sielkundige Louise Remond. “As jy ’n belangrike doelwit het, is dit goed dat jy nie tou opgooi nie, maar soms is dit dapperder en beter om hokaai te roep.”

Sê NEE WANNEER . . .

Jou verhouding jou ongelukkig maak

Johan (16) en sy meisie is al ’n jaar lank saam, maar dis ’n wipwa-rit met dramatiese ineenstortings en ’n gestry oor allerhande kleinighede. “Ons sê nie eens meer jammer nie. Ons rusies lei gewoonlik tot ’n groot geveg en dan is ons albei so keelvol dat ons maak asof niks gebeur het nie,” sê hy.

Dit is nie koel nie, sê Louise. “ ’n Gesonde verhouding is een wat jou oor die algemeen gelukkig laat voel en iets tot jou lewe bydra.

“As jy meer ongelukkig as gelukkig in jou verhouding is, is dit oukei om dit eerder te beëindig.”

Jy en jou beste pel dryf uitmekaar

Nicolette (15) sien haar beste vriendin al minder sedert sy na ’n nuwe skool is. “Ons was onskeidbaar. Nou het dinge verander na: ‘Hi, hoe gaan dit?’ wanneer ons op Facebook gesels. Ek voel skuldig dat ek nie meer aan haar dink nie.”

Louise sê: Moenie te bekommerd wees nie, veral as jy gelukkig is met jou huidige situasie – mense verander en dis nie noodwendig ’n slegte ding nie.

“As jy en jou vriendin verskillende paadjies inslaan, is dit oukei om mekaar toe te laat om aan te beweeg. Dan kan jy sterker bande met ander mense vorm.”

Jy baklei met jou ouers

Michael (14) en sy ouers baklei oor alles. “Hulle is so irriterend en wil my net beheer.”

Dit lyk dalk of hulle hul mes in het vir jou, maar dit is nie so nie.

“Dit kan uitputtend wees om met jou ouers te baklei en ’n negatiewe kringloop veroorsaak,” sê Louise.

Probeer met hulle praat wanneer jy nie kwaad is nie. Dis die beste manier om hulle sover te kry om na jou te luister.

Jy plaas druk op jouself

André (16) hou nie daarvan as sy punte sleg is nie. “Ek gaan nie naweke uit nie, want ek het te veel huiswerk en moet vir die eksamen leer en dan is daar nog sport ook en ek moet heeltyd gefokus bly. Ek wil nie ’n mislukking wees nie.

“Jy gaan uitbrand,” waarsku Louise. “Jy hoef nie in alles uit te blink om oukei oor jouself te voel nie.”

As jy ontspan, sal jy in elk geval ontdek jy geniet die dinge wat jy goed doen net nog meer.

Jy voel jy moet almal volg

Alana (17) het pas na ’n nuwe skool geskuif en is bekommerd dat die nuwe vriendskappe wat sy gemaak het nie gaan hou nie. “Die meisies hou van stokkiesdraai en hulle wil hê ek moet dit saam met hulle doen. Ek ken niemand anders nie en is bang hulle sal nie meer met my vriende wil wees nie,” sê sy.

Wel, ons reken ’n dubbelperiode van geskiedenis is beter as om smiddae ná skool detensie te sit, of hoe! “Dis oukei om nee te sê en jou eie ding te doen. Ware vriende sal altyd jou persoonlike keuses aanvaar,” sê Louise.

LOS DIÉ DINGE

  • KITSDIËTE
  • AFSKRYF EN AFKYK IN DIE KLAS
  • ROOK
  • DRANKMISBRUIK
  • OM HEELTYD OP JOU SELFOON TE WEES
  • STOKKIESDRAAI
  • OM JOU EKS OP FACEBOOK TE JAG