Het dit dalk al met jou gebeur dat jou geliefde of dalk ’n kollega jou aan jouself laat twyfel of jou onseker laat voel, al weet jy dat jy eintlik op die regte spoor is?

As dit deurentyd gebeur, kan dit jou laat voel asof die grond waarop jy staan – dit wat veronderstel is om ’n konstante faktor te wees – die hele tyd verskuif.

Klink dit bekend?

Dit word gasbeligting genoem, ’n manipulerende gedragspatroon waardeur die werklike gebeure deur diegene rondom jou ontken of bloot geïgnoreer word.

Ariel Leve, ’n bekroonde joernalis en skrywer van An Abbreviated Life, verskaf ’n tipiese voorbeeld wat talle waarskynlik al eerstehands ervaar het.

Die ontkenning van die werklikheid is die mees verraderlike deel van gasbeligting.

Sy sê as kind het sy emosioneel onveilig gevoel. Haar ouers het haar afgemaak as iemand wat bloot ondankbaar is en sonder rede kla.

Maar haar gevoel was grondig. Selfs toe sy haar ma konfronteer oor gewelddadige argumente wat sy met haar eie oë aanskou het, is daar aan haar gesê dit het nie gebeur nie. Haar ma het sekere goed wat sy gesê of gedoen het, blatant ontken en Ariel as ’n leuenaar beskryf.

Ariel sê die ontkenning van die werklikheid is die mees verraderlike deel van gasbeligting.

Wanneer iemand met jou ervaring van die realiteit rondfoeter, kan dit daartoe lei dat jy jouself begin wantrou en eerder die manipuleerder begin vertrou.

Gasbeligting is veel meer as net iemand wat ’n ander opinie as jy het. Dit is ’n tegniek wat doelbewus ingespan word om jou te manipuleer en meer gedienstig te maak. Dit kom veral in verhoudings voor waar misbruik, hetsy verbaal of fisiek, aan die orde van die dag is.

Wanneer iemand met jou ervaring van die werklikheid rondfoeter, kan dit daartoe lei dat jy jouself begin wantrou en eerder die manipuleerder begin vertrou.

Dit kan so stadig plaasvind dat jy eintlik geen benul het van wat besig is om te gebeur nie.

Moenie jouself flous deur te dink jy staan sterk teen manipulasie van hierdie aard nie. Dit word gewoonlik oor ’n lang tydperk toegepas.

Stephanie Sarkis, ’n terapeut, skrywer en berader wat in onder meer outisme en angstigheid spesialiseer, sê dit kan so stadig plaasvind dat jy eintlik geen benul het van wat besig is om te gebeur nie.

Dit is soos die padda-in-die-pan-vergelyking. Wanneer die plaat stadig warm word, besef die padda nie hy is besig om dood te kook nie.

Wees bedag op dié tekens

  • Leuens: Gasligaanstekers gee nie ’n snars om of hul leuens blatant of subtiel is nie. Selfs al kan jy die teendeel bewys, sal hulle by hul eie weergawe staan.
  • Afsondering: Hulle sal mense in jou sfeer as wapens inspan. Het jy kinders? ’n Gasligaansteker sal jou duidelik laat verstaan dit was ’n fout om kinders te hê.
  • Dalk gaan jy hoor jou beste vriende haat jou eintlik of dat jou familie dink jy’s nutteloos. Dié taktiek is daarop gemik om jou aan jouself te laat twyfel en die mense na aan jou te wantrou. Jy’s op jou eie, en die gasligaansteker het meer beheer.
  • Wees versigtig vir “liefdesbomme”. Eers word jy verswelg met aandag en liefde en jy dink jy is die gelukkigste mens op aarde. Dan volg die beledigings en jy is verstom. Waar kom dit nou vandaan? Gewoonlik is jy die een wat jou gedrag gaan aanpas om weer daardie liefdevolle persoon in jou lewe te kry. Vergeet dit. ’n Terloopse kompliment of geskenk gaan in alle waarskynlikheid net die voorspel wees tot die volgende uitbarsting, want volgens daardie persoon het jy al weer iets verkeerd gedoen.
  • Verkul jou maat jou dalk? Nie in sy/haar oë nie. ’n Gasligaansteker gaan jou daarvan beskuldig en in die meeste gevalle daarin slaag om jou aandag van sy eie kulstreke af te lei.
  • Word jy gereeld “gek” genoem? Vra jouself af hoekom voor jy dalk begin glo jy is regtig gek. Dit ondermyn jou en loop heerlik bo-oor jou gevoelens.
  • Moet jy gereeld vir familie en vriende om verskoning vra vir jou maat se gedrag? Of dalk begin jy self leuens vertel om aan die beledigings en verdraaide waarhede te ontsnap?
Die gasligaansteker het die mikpunt bereik: algehele beheer oor jou lewe.

As jy voortdurend voel jy is die een wat gedurig toegee vir jou eie heil en jouself meer as normaalweg verdedig, is dit tyd om die werklikheid – jóú werklikheid – in heroënskou te neem.

Die uiteinde van dié soort misbruik? As jy jouself nie betyds regruk nie, kan jy verward en baie alleen voel, want jy glo daar’s niemand wat jy meer kan vertrou nie.

Die gasligaansteker het die mikpunt bereik: algehele beheer oor jou lewe.

Oorlewingswenke

  • Vertrou jou weergawe van die werklikheid en moenie iets aanpas net omdat ’n enkele ander mens dit van jou vereis nie.
  • Die persoon wat jou so behandel, sal nooit verantwoordelikheid vir sy/haar optrede aanvaar nie.
  • Moenie wens vir dinge om te verander nie. Jy wil glo die persoon gaan verander, maar dit gaan nie gebeur nie.
  • Moenie vergeet om deernis jeens jouself te hê nie.
  • Wees prakties waar moontlik en maak notas van jou gevoelens en ervarings. Wanneer iets wat jy gesê het, in twyfel getrek word, kan jy weer na jou notas kyk.
  • Verdwyn of verskyn goed op ’n onverklaarbare manier rondom jou? Gebruik jou slimfoon of kamera en neem dit af wanneer en waar jy dit sien.
  • Werk aan jou verhouding met jouself en fokus op jou grense en emosies. Soos wat die herstelproses vorder, sal die gasligaansteker se greep op jou verslap.

Die oorsprong van die term gasbeligting

’n Toneelstuk getiteld Gas Light (1938), deur Patrick Hamilton, handel oor Jack Manningham wat sy vrou, Bella, manipuleer en haar en ander mense probeer oortuig dat sy stapelgek is.

Hy hou haar figuurlik gesproke in die duister oor waarmee hy besig is of waarheen hy verdwyn. Bella se angstigheid het bly toeneem.

Hy gebruik gasligte om te soek na ’n verborge skat van juweliersware in die woonstel bo hulle s’n. Die gasligte in die huis verdof elke keer wanneer hy die ekstra gasligte in die ander woonstel aansit. Al sien Bella die ligte verdof, hou hy vol dit is bloot haar verbeelding wat met haar op loop sit.

Die toneelstuk is aangepas en in 1940 word die fliek getiteld Gaslight in Brittanje uitgereik. In 1944 volg daar ’n Amerikaanse weergawe met dieselfde titel.

Bronne: thehotline.org, wikipedia.org, psychologytoday.com, uk.businessinsider.com