“Onvervulde verwagtings kan lei tot frustrasie,” sê Carol-Ann Dixon, sielkundige van Durban, wat dien in die raad van Imago Africa, wat gratis verhoudingseminare aanbied. Daardie frustrasie lê egter daarin dat ons nie regtig verstaan dat ons sulke verwagtings koester nie.

“Ek glo dis onmoontlik om dit nie te hê nie, maar ons moet daardie verwagtings eien. Evalueer hoe realisties dit is en praat daaroor met jou maat. Wees bereid om saam skadelike verwagtings aan te pas,” sê Carol-Ann.

Verwagtings kom uit onderliggende, onvervulde behoeftes wat ons frustreer, voeg sy by.

Daarom is dit beter om my eie behoefte as geldig te aanvaar en dit te verwoord en met my geliefde daaroor te praat. Deel jou gevoelens en bespreek dan wat moontlik is. Kom ooreen oor ’n verandering in gedrag, as dit nodig is. So:

1.    Voel die frustrasie.
2.    Identifiseer die behoefte.
3.    Verwoord die behoefte en vra hulp.
4.    Kom ooreen op ’n pad vorentoe.

"Daar is ruimte vir verskille, terleurstellings en vergifnis."

In ’n gesonde verhouding is albei partye bereid om te waag, meen Sorika de Swardt, ’n maatskaplike werker in privaat praktyk in Benoni.
“Wanneer jy emosioneel in iemand anders belê, verg dit waagmoed en ’n bereidheid om jouself oop te stel en weerloos te maak,” voeg sy by.
Konflik en verskille of teleurstellings moet hanteer word deur ope gesprek met die oog op werklike verstaan van mekaar se oogpunt. Dit moet gevolg word deur gedragsverandering sonder dat manipulasie of emosionele afpersing ’n rol speel.
In ’n gesonde verhouding gun mense mekaar ruimte. Maar daar is ook duidelike begrip dat as iemand aanhou om jou seer te maak met dieselfde gedrag, dit nie meer gebalanseerd is nie.

Beantwoord die onderstaande vrae om uit te vind of jy in ‘n ongelukkige verhouding of huwelik vasgevang is, stel Susan Eksteen, ’n kliniese Imago-verhoudingsterapeut en pastorale terapeut van Krugersdorp, voor.
•    Moet jy jou menswees, soos jou drome en oortuigings, prysgee?
•    Moet jy jou waardestelsel, soos jou morele, etiese en leefstylwaardes, inboet? Moet jy dit prysgee om in die verhouding te oorleef?
•    Word jy van jou familie en vriende afgesonder?
•    Neem die seerkry en sielspyn al jou gedagtes en geestesenergie in beslag?
•    Het julle geen respek meer vir mekaar nie?
•    Is daar misbruik en moontlike verslawing aan alkohol of dwelms, dobbel of pornografie wat ontken word en ook nie aandag kry of behandel word nie?
•    Word jy afgekraak en gekritiseer, privaat en voor ander, dat jy niks reg kan doen nie? Jy is altyd die sondebok en jou maat onskuldig?
•    Gee jou maat geen aandag aan jou behoeftes en dit wat vir jou belangrik is en ook aan jou groei as mens nie?
•    Was daar al een of meer as een emosionele of seksuele verhoudings met ‘n derde party wat jul verhouding benadeel het?
•    Is daar, ten spyte van verhoudingsberading, geen aangetrokkenheid, niks wat julle deel en geniet en ook nie ‘n opflikkering in jul sekslewe nie?
 
As jou antwoord op bogenoemde vrae meestal “ja” is, is dit tyd vir professionele hulp.

Bron: imagoafrica.co.za