Hierdie jaar voel dit soos Vaaltuinsdag. Hoe oorleef jy dit tussen al die oorlamse, vryerige paartjies wat skielik jou wêreld vir ’n dag lank vul?

“Al die eerstes (nadat jy en jou geliefde se paaie pas geskei het) is tameletjies – veral die eerste verjaardae, herdenkings, vierings,” sê die Johannesburgse verhoudingskenner en skeiafrigter, Stacey Lewis. Sy is ook die stigter van die aanlyn diensverskaffer The Divorce Source en skrywer van die boek Divorce 101: Survive and Thrive.

Daardie eerste liefde, eerste soen, die eerste keer . . . Dan is daar die pynlike eerstes; skielik as enkellopend.

Dae soos Kersfees, jul huweliksherdenking en Valentynsdag wat eens op ’n tyd ’n spesiale betekenis gehad het, is nou ’n moeilike mylpaal wat net beklemtoon dat julle nie meer saam is nie.

Net die wete dat jy hierdie eerstes pynvol vind, kan jou help om dit bietjie makliker te maak om die Dag van Rooi Harte te oorleef. Gebruik die dag om fokus te plaas op die ander lieflinge in jou lewe – ouers, ’n vriend, jou kind, katjie of hond by die huis.

In Stacey se sjokoladeboks aan jou is daar vier maniere om dié dag te oorleef:

1. Ruim tyd in om dinge te doen wat jou gelukkig maak.

Maak planne saam met mense wat lief is vir jou en tyd saam met jou koester. Doen iets wat vir jou lekker is, soos om spa toe te gaan, langs die see of dam te stap met jou honde; die botaniese tuin naby jou te gaan verken met pêlle wat ook enkellopend is.

Pasop: MOENIE luister na soetsappige liefdesliedjies of die liedjie waarop julle die dansbaan by jul huweliksonthaal geopen het nie.

2. Dis partytjietyd!

’n Idee is om ’n anti-Valentynspartytjie te hou vir almal wat sonder ’n maat is. Dit hang af van die stadium ná ’n egskeiding of uitmaaksessie waarin jy is. Nooi mense wat jou opbeur, speel vrolike liedjies of kyk na ’n komediant se optrede op ’n DVD. Omring jou met mense wat “in jou span” is en wat jou gelukkig maak.

Pas op: Vermy te veel alkohol. Dis ’n depressant.

3. Begin om hoop aan jou boesem te koester.

Daar is nie ’n beter tyd as nou nie. Maar jy mag maar bietjie af voel op hierdie dag. Vergewe jouself en laat toe dat jy bietjie van balans af is. Dis normaal, sê Stacey. Sorg dat jy daagliks geluksalige tyd vir jouself opsysit; selfs al is dit vyf minute. Jy moet jouself bietjie pamperlang – dit kan in die bad wees, omring deur kerse, of om na mooi musiek te luister en te ontspan.

Skryf hierdie woorde neer: Dit sal ook verbygaan. En dit sal. Jy SAL hierdeur kom, belowe Stacey, wat al baie mense hierdeur begelei het.

4. Onthou dankbaarheid.

Maak ’n lysie van al die areas in jou lewe waar jy liefde ervaar en skryf dit neer. Stel daagliks ’n lysie op van vyf dinge waaroor jy dankbaar is. Dit sal meer oorvloedigheid en geluk soos ’n magneet na jou aantrek.

“Koop vir jouself ’n bos rose – dit is mos Valentynsdag,” stel Stacey voor. “En troos jou daaraan dat jy basies die helfte betaal van die prys wat ander suckers reeds die vorige dag moes opdok.” Sulke bitter oomblikke kan ook sy voordele hê.

Ten spyte van die moontlike hartseer op Valentynsdag ná die verlies van ’n maat deur een of ander skeiding, is dit ’n belangrike stadium. Jy moet jouself ruimte gee om te rou, kwaad te wees en op die ou end heling te vind.

“Dis belangrik om te onthou geluk is ’n inside job. Niemand kan vir jou geluk verantwoordelik gehou word nie. Dis in jou hande. Voordat jy weer probeer om liefde te vind, moet jy weer ’n slag leer om jouself lief te hê en te koester, sowel as om jouself toe te laat om te herontdek wie jy is,” stel Stacey voor.

Maar jy moet met ’n oop gemoed en hart weer liefhê, selfs ná die hartseer en verwerping.

Stacey paai: “Dit is moontlik.”