Volgens ’n studie deur die Gonzaga-universiteit in Washington, het paartjies wat saans voor slapenstyd met mekaar gesels ’n meer intieme verhouding. Hulle voel ook meer ontspanne en het ’n beter kans op ’n goeie nagrus.

Gevolglik verlaag hierdie mense hul kans op allerlei ouderdomsverwante siektes, waarvan baie deur slapeloosheid, angs en onaktiwiteit aangewakker word.

Sarah Arpin, ’n maatskaplike sielkundige by die universiteit, en haar span, het 162 militêre egpare in Oregon ondersoek wat 9/11 deurgemaak het en wie se daaglikse taak groot uitdagings behels.

Die deskundiges het die verhoudings bekyk aan die hand van eensaamheid, intimiteit, slaap en die deel van goeie nuus. Hulle het gevind om goeie nuus te deel is ’n belangrike stutmiddel by intieme verhoudings.

Die studie toon ook die manier waarop die deel van selfs die geringste besonderhede van die dag, van ’n prestasie by die werk tot ’n persoonlike kordaatstuk, ’n band kan versterk wanneer jy ’n optimistiese reaksie ontlok.

“Hierdie studie dra by tot ’n groter hoeveelheid leesstof wat steun verleen aan die belangrikheid van die deel van goeie nuus, sowel as die positiewe terugvoer daaroor,” lui Arpin se verduideliking.

“Daar is baie min studies wat die daaglikse verloop van verhoudings van militêre egpare ondersoek. Hulle is veral kwesbaar vir verhoudingsprobleme ná ontplooiing.

“As jy iets goeds deel en die een wat die inligting ontvang, is besonder bly vir jou part, verhoog dit die positiewe ondervinding vir albei partye. Maar as iemand jou oomblik bederf, kan dit negatiewe gevolge hê.”

Die navorsingstuk sal vanjaar op die jaarlikse Konferensie van die Vereniging vir Persoonlikheids- en Sosiale Sielkunde bekendgestel word.

© Cover Media