“Maar dis baie ver van 14 Februarie af!” wil jy uitroep, of hoe?

En dis waar – maar onthou, jy het mos nie ’n verskoning nodig om romanties te raak nie. Dit beteken eintlik soveel meer as jy jou maat onverwags met ’n romantiese gebaar verras.

Wees laf

As jy in ’n langtermynverhouding is, is julle waarskynlik altyd besig met “grootmensdinge” soos huisverbande, rekeninge en werk. Maar dit beteken nie jy kan nie af en toe die kind binne jou laat uitkom nie.

As jy twee vlieë in een klap wil slaan en sommer ook aktief wil raak, kan jy een van jou wederhelfte se stokperdjies begin beoefen.

Gaan park toe met ’n bal, speel minigholf of soek speletjies wat spesifiek op volwassenes gemik is – dit gaan dalk aanvanklik simpel voel, maar jy gaan jou so geniet dat jy nie sal omgee nie. En as jy liewer wil tuisbly, probeer mekaar in ’n bord- of videospeletjie klop. Dis ’n aantreklike eienskap om speels en prettig te wees, en lag is goed vir ’n mens.

Hou dit ontspanne

As jy nie veel tyd het vir romanse nie, kan jy onder groot druk voel om ’n afspraak met jou maat te reël. ’n Bespreking by ’n duur restaurant, om hope geld uit te gee en jouself in glansryke klere op te tof, kan alles stres en teleurstelling veroorsaak wanneer iets nie volgens plan verloop nie.

Doen liewer iets ouliks, maar eenvoudigs. Gaan saam met jou maat fliek toe om iets te kyk wat jy weet hulle in belangstel, of terug na die goedkoop restaurant waar julle een keer lekker gekoring geraak het.

Dis dalk ’n cliché, maar dis die gedagte wat tel – en ’n bietjie moeite is baie meer werd as om ’n klomp geld uit te gee.

Kry die vonk terug

Hoe gereeld sê jy vir jou maat hoe aantreklik jy hom/haar vind? Of beter nog, hoe gereeld wys jy dit? Dis lekker om te voel jy word begeer. In plaas van om vir hulle ’n teksboodskap te stuur om die asdrom buite te sit, stuur ’n suggestiewe boodskap wat daarop sinspeel dat hulle later vanaand ’n bederfie gaan kry. Komplimenteer ook hul uitrusting of hare . . . wat ook al op daardie dag mooi lyk. Dit sal sorg vir ’n broodnodige hupstoot in hul selfvertroue.

Maak hul lewe makliker

Liefde word dikwels met die eenvoudigste gebare getoon. As jy werklik omgee vir iemand, is hul geluk waarskynlik baie hoog op jou prioriteitslys. Dit beteken nie jy moet iets spoggerigs doen nie, maar vooraf dink oor wat hulle dalk gaan benodig.

Ervaar hulle dalk baie werkspanning? Berei die aand vir hulle middagete en sit ’n briefie daarby waarin jy jou liefde verklaar. Het hulle die trein verpas en vergaan van die honger? Slaan vinnig iets aanmekaar sodat dit klaar is wanneer hulle tuiskom.

Dis sulke klein gebare wat baie beteken en dit sal ook nie baie van jou tyd in beslag neem nie.

© Cover Media