“Komaan! Ons almal gaan bunk. Wie wil nou in elk geval ’n klastoets skryf? Ons gaan almal oor die draad spring en by Jacques se huis uithang,” sê die gewildste ou in jou klas.

Wat doen jy? Doen jy wat jy weet reg is en gaan klas toe? Of swig jy onder die druk en gaan saam met jou vriende?

Almal ervaar soms groepsdruk – of dit nou is om stokkies te draai, te rook, drink of dwelms te gebruik, of om by jou kêrel of meisie te slaap.

Die maklikste manier om slegte groepsdruk te hanteer, is om dit heeltemal te vermy. Omring jou met vriende wat se waardes en belangstellings soos joune is. Dan is die kans dat jy slegte groepsdruk sal ervaar, baie kleiner.

  1. Haal asem

    Wanneer iemand iets voorstel wat jou ongemaklik maak, haal eers asem. Jy hoef nie dadelik te antwoord nie.

  2. Soek die regte woorde

    As jou vriende jou wil ompraat om byvoorbeeld iemand af te knou of iets te steel, sê wat jy daarvan dink. Byvoorbeeld: “Dis wreed.” “Dis gevaarlik.” “Dis diefstal.” “Dis teen die reëls.”

  3. Dink

    Watter gevolge hou jou optrede in? Byvoorbeeld:

  • Iemand afknou: Gaan dit hulle seermaak?
  • Skoolreëls oortree: Jy kan in die hoof se kantoor beland en jou ouers sal jou moontlik ook straf.
  • Winkeldiefstal: Jy kan uitgevang word en in die polisiekantoor beland.
  • Rook, drink of dwelms gebruik: Jy kan verslaaf raak en jou gesondheid ernstig benadeel.
  • Seks met jou kêrel of meisie: Julle kan oor ’n maand uitmaak. Hoe gaan jy dan voel

4. Vra: Wat kan ons eerder doen?

Stel iets anders voor wat julle kan doen. Dis dikwels makliker as om die slegte gevolge op te noem.

5.    Loop weg

As dié strategieë nie werk nie, stap net weg, maar moet liewer nie jou vriende kritiseer nie (dit kan op ’n bakleiery uitloop). Sê liewer iets soos: “Reg, ek gaan liewer klas toe en dan kry ek julle ná skool by Jacques se huis.

-         Shané Barnard

Bronne: Kidshealth.org, Teensforlife.com, Greatschools.org