Om jou maat wat jou verneuk uit te vang, is glad nie so maklik soos wat jy dalk dink nie.

Luidens ’n studie wat deur die maatsoekwebwerf Victoria Milan gedoen is, word slegs 15% van alle vroue en 18% van alle mans wat ontrou is ooit uitgevang.

Victoria Milan is spesifiek vir mense wat reeds getroud of in ’n langtermyn verhouding is, maar wat graag ’n affair wil aanknoop. Hulle het 5,780 aktiewe intekenare van die webwerf gevra om aan die studie deel te neem.

Die groep is onder meer gevra hoe hulle sou reageer as hulle uitgevang word sowel as wat die mees algemene tekens is van ’n maat wat pas teruggekeer het van ’n stoute afspraak met iemand anders.

Die webwerf het toe ’n lys van hierdie tekens saamgestel – en hier is, so ewe uit die perd se bek:

Hierdie tekens dui waarskynlik daarop dat jou maat jou verneuk:

1. Hulle is ekstra versigtig met hulle privaatheid op hul selfoon en eposse.

2. Hulle hou ’n afstand van jou en vermy oogkontak.

3. Hulle lyk altyd goed en gee skielik meer om oor hoe hulle lyk.

4. Hulle tree nie natuurlik op nie; hulle gee nie meer om oor familiesake nie en is meer gefokus op ander dinge.

5. Hulle stort op vreemde tye en sit hul klere byna dadelik in die wasmasjien.

6. Hulle vergeet wat hulle vir jou gesê het van waar hulle was en hul stories klink deurmekaar.

7. Hulle is is ekstra vriendelik en liefdevol teenoor jou.

8. Hulle het grimeermerke aan hulle klere en ruik na parfuum.

9. Hulle gaan snags dadelik bed toe en maak verskonings om seks te vermy.

10. Hulle hou rekeninge en strokies van die afsprake waarop hulle was.

Die stigter van die webwerf, Sigurd Vedal, sê verneukers wil nie gevang word nie. Hulle wil ’n verhouding hê op die kantlyn en huis toe gaan na hul maat.

Volgens hom het verneukers hierdie lys saamgestel van tekens om voor uit te kyk – en omdat hulle self weet wat die tekens is, is dit moeilik om hulle uit te vang.

2,316 vroue en 3,464 mans het aan Victoria Milan se studie deelgeneem.