DIE DILEMMA: ‘Ons hou van dieselfde ou’

“Ek en my pel hou van dieselfde ou by ons skool. Ek begin nou voel dis ’n kompetisie, veral nadat ek gesien het hoe sy voor my met hom flankeer. Hoe hanteer ek dit?”– Melanie

DIE OPLOSSING: Pleks van gemeen raak, kom ooreen om vriendelik te wees met mekaar en laat dit aan hom oor om die volgende skuif te maak, sê die sielkundige Louise Remond. “Moenie met haar meeding nie. Dit sal waarskynlik nie die ou beïndruk nie.”

DIE LES: Probeer dit vermy om van dieselfde ou as jou pelle te hou – kyk ’n bietjie watter oulike ouens nie dieselfde skool bywoon nie.

DIE DILEMMA: ‘EK HOU VAN MY PEL SE OUER BROER’

“Ek is verlief op my vriendin se ouer broer. Ek het haar daarvan gesê en sy het gesê dis oukei, maar ek dink sy voel vreemd daaroor. Wat moet ek doen?” – Cleo

DIE OPLOSSING: As jy ernstig is oor hom, moet jy seker maak sy is oukei daarmee. “Gesels daaroor en vra haar hoe sy sal voel as jy meer tyd saam met hom deurbring as saam met haar. Gaan sy in twee geskeur voel as jy en haar broer dalk uitmaak?” sê Louise. As sy regtig oukei is daarmee, waarvoor wag jy?

DIE LES: Vertrou jou instinkte. Los dit liewer as dit jou vriendin kan seermaak.

DIE DILEMMA: ‘EK HOU VAN MY VRIENDIN SE KÊREL’

“Een van my beste vriende gaan uit met ’n oulike ou en ons hang gedurig saam uit. Hulle is oulik saam, maar ek voel die afgelope ruk iets vir hom en het selfs van hom gedroom. Help!” – Lizzie

DIE OPLOSSING: Ons het nie beheer oor van wie ons hou nie, maar ons kan besluit of ons iets daaraan gaan doen. “Herinner jou daaraan dat dit oukei is om te dink hy is aantreklik, maar onthou hy het iemand anders,” sê Louise.

DIE LES: Kyk na die eienskappe waarvan jy hou in hom en kry iemand met soortgelyke eienskappe.

DIE DILEMMA: ‘EK HOU NIE VAN MY BESTE PEL SE OU NIE’

“Ek en my beste vriendin was baie na aan mekaar voor sy met hierdie ou begin uitgaan het. Nou bring sy hom oral saam en ons kry nie meer tyd alleen saam nie. Hy is jaloers en ek dink hy is ’n nare vent, maar sy gaan op die aanval wanneer ek daaroor praat.” – Ava

DIE OPLOSSING: Jy kan nie beheer met wie sy uitgaan nie. Wees ook versigtig as jy jou mening deel, want dit kan haar wegstoot. “Pleks van hom persoonlik kritiseer, sê jy mis dit om alleen tyd saam deur te bring. Reël ’n aandjie net vir meisies en hoor weer wat gaan in mekaar se lewens aan,” sê Louise. “As jy bekommerd is oor sy gedrag, laat haar daaroor dink deur te vra hoe dit voel as hy sê hy wil nie hê sy moet met haar vriende uithang nie.”

DIE LES: Praat met ’n volwassene wat jy vertrou as jy regtig bekommerd is oor jou vriendin.

DIE DILEMMA: ‘My beste pel en my eks is saam’

“My beste pel gaan uit met my eks, maar ek hou nog van hom en sy weet dit! Sy vertel heeltyd vir my stories oor hulle en hulle hou voor my handjies vas. Ek probeer maak of ek gelukkig is, maar ek voel nie regtig so nie.” – Jade

DIE OPLOSSING: “Sy is nie baie lojaal deur met jou eks uit te gaan en voor jou vir hom ogies te maak nie,” sê Louise. Jy moet haar sê hoe jy voel. “Verduidelik hoe moeilik dit vir jou is en vra dat sy daaroor dink. As niks verander nie, moet jy ’n bietjie dink of sy regtig die eer verdien om jou beste pel te wees.”

DIE LES: Die no. 1-reël onder meisies is om nooit met jou pel se eks uit te gaan nie. Daar is uitsonderings (soos as jou vriendin regtig oukei is daarmee en hul verhouding lankal geskiedenis is), maar dis beter om dit heeltemal te vermy waar moontlik.

DIE DILEMMA: ‘My vriendin verpes my kêrel’

“Ek het ’n vriendin wat baie negatief is oor my verhouding. Ek het gedink dalk het my kêrel iets aan haar gedoen, maar sy is sonder goeie rede onbeskof – almal hou van hom. Haar gedrag is irriterend.” – Tess

DIE OPLOSSING: Ons wil almal hê ons vriende moet hou van die een op wie ons verlief is; daarom kan so iets ’n groot teleurstelling wees. Al manier om dit te hanteer, is om met haar te praat. “Sy raak dalk nog gewoond daaraan om jou met iemand anders te sien en soek meer tyd saam met jou. Moenie dat dit jou verhouding bederf as jy regtig gelukkig is nie.”

DIE LES: Jip, vriendskappe kan ’n ander dinamika aanneem as daar nog iemand in die prentjie kom (soos ’n splinternuwe kêrel). Onthou om altyd vir vriende tyd te maak en hulle te laat verstaan jy is nog lief vir hulle.