Teen dié tyd is die kans egter groot dat daardie spesiale geskenkie waarmee jy jou liefie wou verras al uitverkoop is.

Nietemin, ons het ’n paar wenke vir dié wat nog nie so ver gedink het nie, dié wat die dag saam met vriende gaan deurbring en selfs dié wat Valentynsdag glad nie kan verdra nie.

Vir paartjies:

  • Wys jou geliefde hoe lief jy hom of haar het en verras hulle met een van skoonma se gewilde resepte.
  • Verbeel jou jy is ’n toeris op jou eie dorp of stad en geniet ’n romantiese dag saam met jou liefie. Beplan ’n daguitstappie en verken die dele waarmee jy nie so bekend is nie. Op hierdie manier leer ken julle nie net mekaar nie, julle leer ook meer oor waar julle woon.
  • Hier is ’n ongewone manier om hierdie dag deur te bring: Reël ’n groepafspraak met ander paartjies. Dis ’n goeie idee vir dié wat pas ’n verhouding aangeknoop het en dit verlig boonop die spanning van ’n eerste Valentynsdag. Vier die spesiale aand as een groot groep metgeselle.
  • Manne, koop 10 rose vir die liefde in jou lewe en heg ’n nota aan elke roosstingel met toekomstige afsprake. Dit sal vir seker haar knieë lam maak.
  • Koester die mooi herinnerings en bespreek ’n tafel by die restaurant waar jul eerste afspraak was. Dit behoort die vonke weer van voor af te laat spat.
  • Bederf jou geliefde met ontbyt in die bed. Hier is 'n lekker manier om hartvormige eiers te maak.
  • Die pad na ’n man se hart is deur sy maag; verras die man in jou lewe deur sy geliefkoosde gereg en nagereg te berei.

Lees ook: Vyf wenke vir ’n romantiese Valentynsdag

Vir die loslopers:

  • Moenie bekommerd wees nie; jy is nie al een wat op Valentynsdag enkellopend is nie en dit beteken ook nie jy mag dit nie vier nie. Kry jou enkellopende vriendinne bymekaar en beplan ’n aandjie uit met pizza en drankies.
  • Besoek saam met ’n groep vriende ’n wynplaas en vergeet van die feit dat jy enkellopend is.
  • Reël dat jul vriendekring vir mekaar geskenkies gee; op hierdie manier sal jy steeds spesiaal voel.

Lees ook: Ouers, só kan julle Valentynsdag oorleef

As jy Valentynsdag haat:

  • Een ding is seker: Moenie vanaand die TV aanskakel nie, want jy gaan heel waarskynlik op ’n romantiese fliek afkom. Verskuif eerder die fokus van Valentynsdag en besoek jou naaste video-winkel vir ’n aksiebelaaide fliek of ’n lekker komedie.
  • Moenie die huis verlaat as jy glad nie verliefdes wil sien nie. Nooi eerder jou vriende oor vir ’n prettige speletjies-aand.
  • Gebruik die dag om hope episodes van jou gunstelingtelevisiereekse te kyk en moenie jou geliefkoosde peuselhappies vergeet nie.
  • Vermy sosiale media, tensy jy jou vriende en hul liefie smoorverlief in die een of ander foto-collage wil sien.
  • As dit jou sak pas, verruil die stad vir ’n rustiger plek. Pak jou gunstelingboek in en maak sommer ’n wegbreeknaweek daarvan.

– Saamgestel deur Saskia Hill

Ander stories op huisgenoot.com:

Bobby van Jaarsveld in hospitaal

Sexy Bobby slaan asems weg met Engelse musiekvideo

Kyk net hierdie bekendes se verborge talente

Hoe nou? Kyk net watter lawwe verskonings gebruik mense om weg te bly van die werk af!

Nuttige veiligheidswenke om jou spruit te beskerm

Wat is die gevaarlikste dier ter wêreld???