[caption id="attachment_46588" align="alignnone" width="600"]Ons blogger, Erla-Mari Diedericks. Foto: Gerda Louw Ons blogger, Erla-Mari Diedericks.
Foto: Gerda Louw[/caption]

Hoe begin ’n mens op 46 weer vry? In die eerste van ’n reeks blogs oor die wêreld van internet-afsprake vertel Erla-Mari Diedericks hoe dit  voel om ná ’n lang verhouding weer die ‘dating game’ aan te durf.

TOE ek 19 was, het ek altyd op Sondae deur die woonbuurte van Bloemfontein (waar ek geswot het) gestap, die geur van lamsboud en die gelag van kinders gehoor – en gewens ek kry ’n man en ’n gesin van my eie. Deesdae soek ek net rus en vrede – en ’n kêrel vir die wis en die onwis van my hart.

Op 46 is ek  ná ’n lang verlowing weer enkellopend. Daarvóór was ek 10 jaar lank getroud. En dáárvoor twee jaar lank verloof. Lang verhoudings kan ek dus doen. Ek kan hulle net nie hou nie. So hier is ek weer, my karige besittings in my hande, my hart op my mou – besig om te soek na ’n liefde wat sal hou. (En so by my kool, dit rym).

Die laaste keer dat ek enkellopend gelaat is, het ek op ’n webtuiste vir enkellopendes gegaan en liefde gevind. Ek moes egter seker êrens ’n spieël gebreek het, want die geluk het net sewe jaar gehou en nou soek ek maar weer man op ’n webtuiste. Hopelik is die volgende sewe jaar darem nie ongelukkig nie

En so gaan ek toe op my eerste afspraak . . .

Ek stap alleen na die restaurant. My jean voel styf, my baadjie krap en ek voel ongemaklik om uit gaan vir ete waar ek nog altyd vantevore saam met my eks en seun gekuier het. So asof ek gaan stout wees in my ma se slaapkamer. Ongelukkig is dit al restaurant wat ek goed ken en waar ek veilig voel.

Ek sien hom die oomblik toe ek instap. Die ene oë en maag. Wat de boep! Op sy foto’s was hy minstens 10 jaar jonger en 10 kilogram ligter. Iets moes tussen toe en nou gebeur het, want Meneer Maer en Dertig het verander in Meneer Vet en Veertig. Ek sug. Dan word ek begroet deur die eienaar, die bestuurder, die kelners. Natuurlik sal almal wat ek ken, vanaand hier wees.

Boepman se ogies trek op skrefies as hy al die gegroetery waarneem. Sy boep wip wantrouig saam. “Jy ken die hele wêreld,” sê hy. “Jy bring seker al jou kêrels hier?”

Skielik mis ek my eks. Want as hy hier was, kon ek sy kop afgebyt het oor so ’n simpel stelling. Maar ’n vreemdeling moet ek ongelukkig katvoet benader.

“Ek bring beslis nie my kêrels hiernatoe nie. Dis my eerste afspraak nadat ons opgebreek het.”

Sy ogies vernou net verder. “Ek is net nie lus om gebruik te word nie.”

Êrens begin ’n klokkie waarskuwend lui. Dan hoor ek ’n ander geluid. Dis rampspoed. Besig om genadeloos op my af te peil in die vorm van die restaurantbestuurder. Hy kom vervaard op my afgevlieg in sy swart pak soos ’n angstige pikkewyn. Dan buk hy af en fluister so hard en teatraal in my oor dat die hele restaurant elke verdoemende woord kan hoor.

“Mevrou! Mevrou! Jou man het gebel en hy wil weet of Mevrou in die restaurant is en saam met wie.”

In die skielike stilte wat oor die restaurant neersak, kan ek Boepie se maag woedend hoor grom. Ek wonder vererg hoe my eks uitgevind het ek is hier.

Boepie is sigbaar ontsteld, want hy dink natuurlik nou ek is getroud. Die verduideliking wat daarna volg – nee, ek is nie getroud nie, ja ek was net verloof, nee ons is nie meer verloof nie – is so sieldodend dat ek dit nie eens hier wil herhaal nie. Die uiteinde is wel dat Boepie besluit om te bly – ook natuurlik omdat die kos reeds bestel is.

Daar is niks, maar niks so aaklig as om saam met iemand te sit en eet vir wie jy niks het om te sê nie. Gelukkig het ek nie daardie probleem nie, want Boepie het baie om te sê.

“Het jy geweet ek werk op die bote?” kondig hy aan. “Maar ek kan nie eintlik vir jou sê wat ek doen nie, want ek sal jou moet doodmaak.”

Ek verstik aan my kabeljou.

“Ek grap net, poplap.”

Die kabeljou gaan sit in my keel vas. Ek en die kabeljou het water nodig.

“Maar ja, ek doen die security op die bote.” Dan leun hy vooroor en fluister. In die kerslig kan ek die spoeg op sy bolip sien. Sy boepie stoot die tafel effe terug.

“Belowe jy sal vir niemand vertel nie, maar ek beskerm die bote teen die seerowers.”

Die woord seerower sis deur die lug soos ’n koeël. Ek wonder of ek reg gehoor het.

“Die laaste keer dat ek op die bote was, is ons deur ses Somaliese seerowers aangeval. Ek was in my bed, besig om te slaap. Sesde sintuig het my gelukkig wakker gemaak en ek het hulle almal doodgeskiet. Net daar! Een vir een vir een! Hulle afgemaai soos skape! BAM! BAM! BAM!”

Die glase ratel op die tafel. Ek wens die kabeljou wil my insluk. Asseblief. Hoe lank nog voor die rekening kom?

Die gees van die gestorwe kabeljou moes seker my smekinge gehoor het, want die rekening daag kort daarna op. Boepie sit die rekening summier voor my neer.

“Jy is baie mooi en begeerlik, en poplap, ek kan die hele aand jou tone laat krul van lekkerkry, maar jy het my tyd gemors. Jy is nog nie gereed vir ’n verhouding nie. So jy betaal jou eie rekening.”

Ek wil begin lag. Die aand kan ontmoontlik erger. Ek betaal my deel van die rekening. Dan stap ons uit in die soel aandlug. Hy steier wydsbeen en selfvoldaan voor my uit soos ’n groot haan wat ’n paaseier in sy broek ronddra. Dan gaan staan ons by my motor. Hy streel daaroor. ’n Vuil stofstreep gaan lê oor sy vinger. Dan vat hy met dieselfde vuil vinger aan my gesig.

“Ai . . . Ek sal regtig jou tone kan laat krul, maar nie vanaand nie, want poplap – jy moet nou ry en jou kar laat was . . .”

Wel, volgende naweek probeer ek weer. Hou hierdie ruimte dop . . .

- Erla-Mari Diedericks

book coverErla-Mari Diedericks is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by http://www.kalahari.com/books/Still-Standing/632/47272047.aspx?keyid=rss

* Stel jy belang in aanlyn-ontmoetings? Gaan na Huisgenoot se ontmoetingsportaal by http://www.pasmaats.co.za/s/