Dis hoekom alleen uitgaan die nuwe inding is

Alleentyd help jou uitpluis wat JY wil doen, of dit nou is om jouself te pamperlang, vrywilligerswerk te doen, vreeslik swak werklikheids-TV te kyk of drie boeke ná mekaar te lees. Soos Emma Stone sê: “Bly getrou aan jouself en moenie nie bang wees nie, al sê mense dis nie koel of reg wat jy doen nie. Ek belowe jou, jy sal nie spyt wees nie.” Wel, as dit goed genoeg is vir Emma . . .

Op ’n partytjie

Voordeel van alleen gaan: Ontmoet nuwe mense

Jy is na die partytjie van die jaar genooi, maar het niemand om saam te neem nie. Trek jou skouers agteroor, haal diep asem en stap in asof die plek aan jou behoort. Al voel jy nie vreeslik vol vertroue nie, maak dit na! Meng met groepe saam met wie jy nie gewoonlik uitgaan nie deur te fokus op wat julle met mekaar gemeen het. Wie weet, dalk maak jy vriende met ’n wonderlike nuwe groep mense.

By die fliek

Voordeel van alleen gaan: Kyk wat jy wil

Jy is dol oor stroperige stories, maar jou pelle hou van aksie. Hoekom daai tranetrekker misloop? Wie sê jy kan nie alleen gaan nie? Jy hoef niemand in ag te neem oor watter fliek jy wil kyk of waar jy wil sit nie. En die beste van als: Jy hoef nie jou springmielies te deel nie!

By ’n konsert

Voordeel van alleen gaan: Jy kies die vertoning

Konserte is ’n duur uitgawe wat die meeste van ons net vir ons gunsteling-musiekmakers afknyp. Hoekom dan iets misloop net omdat jy nie ’n metgesel het nie? Sorg net dat jou foon vol gelaai is en jy ’n geleentheid na en van die konsert het, en jou kop is deur! Dis ook ’n wonderlike plek om nuwe vriende te maak, want julle deel klaar iets (goeie musieksmaak!).

’n Familietroue

Voordeel van alleen gaan: Jy hoef nie verskoning te maak vir jou vreemde familie nie

Dis die volmaakte kans om met jou niggies en nefies te meng. En gee vir daardie suster van jou ouma die voordeel van die twyfel en gesels met haar – sy’s dalk nie so vervelig soos wat jy altyd gedink het nie.

Die skooldans

Voordeel van alleen gaan: Geen ongemaklike druk van ’n ou of meisie nie

Pleks van heelaand met een mens dans, kry jy die kans om in groepe saam met jou beste vriende te dans (hallo, lekker in pas bly, nè!). Jy kan ook stadig dans saam met ander alleenkommers.

Alleen uitgaan

Die sielkundiges Robynne Thomson, Lydia Batchelor en Lillian Lomofsky gee wenke oor hoe om alleen uit te gaan.

Wees jouself

Dit is belangrik om nie jou eie waardes of sedes te laat vaar om in te pas nie. Onthou, daar is baie groepe waarin jy kan tuisvoel.

Hou op jouself kasty

Hou op jouself met jou vriende vergelyk. Op die ou end voel jy net nog slegter oor jouself.

Pluis uit wat JY wil hê

Deur jou belangstellings of stokperdjies te ontwikkel kan jy ’n vriendskap of verhouding aanknoop met iemand wat iets met jou deel waarvan julle albei hou.