MEGAN BURSEY

1.    Vra met dankbaarheid en toon waardering

Jou ouers sal blitsvinnig “nee” sê as jy op ’n veeleisende manier vra.  As jy dink jou ouers skuld jou iets, gaan jy jou kop nog lelik stamp. Vra liewer met dankbaarheid en verduidelik op ’n mooi manier waarom jy die duur kamera  of luukse item nodig het. Wys jy waardeer dit opreg dat hulle hard werk om jou dit te gee wat jy nodig het en dat dié item jou jou vaardighede gaan help slyp.

2.    Bied aan om iets te doen

Vra jou af: Wat kan ek my ouers bied? en dink dan hoe jy jou tyd of vaardighede kan gebruik om te kry wat jy wil hê. Jou ouers wil dalk hê jy moet verantwoordeliker wees, en as jy kan bewys jy is bereid om te werk vir geld, is jy klaar op die regte pad.

Wees gewillig om ’n paar takies tuis te doen of belowe dat jy jou wiskundepunte sal verbeter in ruil vir jou gewenste item.

3.    Gee hulle kans om daaroor te dink  

As jy ’n onmiddellike reaksie verwag, kan jy reg maak om dadelik “nee” te hoor. Goeie tydsberekening is die sleutel tot sukses. Vra jou ouers op ’n mooi manier wanneer hulle rustig verkeer. Sê dis nie dringend nie, maar vra hulle moet nadink oor byvoorbeeld ’n nuwe skootrekenaar omdat joune voos is.

Begin dalk jou versoek met: “Ma hoef nie nou ja of nee te sê nie. Ek wil hê Ma moet eers daaroor nadink voor jy dadelik antwoord.” Die beste raad is om nou die saadjie te plant en later die vrugte te pluk.

BRON: HUFFINGTONPOST.COM