In ’n ontleding wat deur die app op die Mashable-webtuiste uitgereik is, is bevind dat baie van hul gebruikers foto’s stuur met uitrustings wat hulle nie laat uitstaan nie en dit gee aanleiding tot ’n verwerpveeg na links.

Navorsers het 12 000 profielfoto’s van gebruikers, tussen 18 en 40 jaar oud, in Atlanta, New York en Los Angeles beoordeel. Volgens die bevindings kies amper driekwart van mans en meer as die helfte van vroue neutrale, basiese klere, met swart as die mees algemene kleur, gevolg deur wit, blou en vaal.

Dr. Jessica Carino, ’n sosioloog, merk op dat albei geslagte die veilige paadjie loop. “Klere is ’n belangrike manier waarop mense seine uitstuur na ’n potensiële maat,” het sy aan Mashable gesê. “’n Groot gedeelte van manlike en vroulike gebruikers dra klere wat ’n duidelike aanduiding van manlikheid of vroulikheid gee.”

Dit beteken dat die gebruikers aangetrek het om hul geslag te weerspieël. Amper ’n derde van die mans het oopknoophemde gedra, terwyl geen enkele vrou so iets aangehad het nie: Hulle het oor die algemeen rokke gekies.

Wat moet ons dus doen om uit te staan in ’n groep neutrale cliché-gebruikers?

“Aangesien die meeste gebruikers neutrale kleure dra, moet mense wat ’n beroering wil veroorsaak, ’n dinamiese kleur dra,” is die raad van die deskundiges van die app.

Daar is ook opgemerk dat profielfoto’s gebruik word om hul status te weerspieël, aangesien Tinder bevind het dat meer as ’n vyfde van hul manlike gebruikers op minstens een van hul kiekies ’n pak dra.

“’n Profielfoto bied ’n belangrike blik op iemand se persoonlikheid,” het dr. Carbino bygevoeg. “Mense kies om sekere elemente van hul persoonlikheid oor te sein deur middel van hul keuse rakende klere, soos om ’n kortbroek en ’n T-hemp, teenoor ’n pak en das, te dra.

“Hoewel die soort klere wat iemand dra nie regstreeks vereenselwig word met die moontlikheid dat iemand van hom sal hou of nie, is kleredrag een van die faktore by die skepping van ’n beeld van wie iemand is.”

Jy moet wel versigtig wees wanneer jy hierdie soort afspraakdienste gebruik, aangesien onlangse syfers getoon het dat misdaad in Brittanje, wat verband hou met apps soos Tinder en Grindr, die afgelope twee jaar met 700 persent toegeneem het.

Dit sluit poging tot moord, verkragting en voorbereiding vir seks met kinders in.

© Cover Media

Lees ook:

Hierdie minnares meen sy RED getroude mans se huwelike