Die vriendsone: As iemand jou hart vinniger laat klop, maar daardie persoon jou net as hul beste pel beskou.

Julle stap op die strand en bespat mekaar met water; lekker sorgelose pret. Dit voel soos ’n romantiese afspraak . . . maar dis eintlik ’n tipiese Saterdag saam met jou beste pel. Brand jy om jou ware gevoelens aan ’n vriend(in) te onthul?

Hoe om hulle te benader 

Bly rustig. Skimp, skimp en nogmaals skimp. Net ingeval hulle nie dieselfde voel nie, wil jy nie sommer met die deur in die huis val nie.

Oorweeg jou opsies. Dink jy regtig dit gaan in die nabye toekoms uitwerk tussen julle? As dit nie so voel nie, is dit regtig die moeite werd?

Vertrou jouintuïsie. As dit reg voel en jy voel jy moet eerlik wees oor hoe jy voel, gaan voort. Als is dalk nie agterna dieselfde nie, maar jy sal jou nooit vergewe as jy nie ten minste probeer nie.

Hoe om te reageer as hulle nie dieselfde voel nie (sodat jy nie die vriendskap verloor nie) 

Almal is geregtig op hul voorkeure. Onthou, jou pel is geregtig op sy/haar gevoelens. As hulle nie dieselfde voel nie, moet jy dit aanvaar.

Vat ’n blaaskans. Soms help dit om ’n blaaskans te vat om alles te verwerk. Onthou: As dit jou beste maat is, kan julle dit waarskynlik verwerk.

Moenie te veel tob nie. Dit gaan dalk baie seermaak, veral aan die begin, maar onthou net wat nie doodmaak nie, maak sterker!

Moenie persoonlik raak nie. Onthou, dis jou pel. Voor jy uitvaar en te emosioneel raak, dink bietjie wat jy sê, want hulle sal dit altyd onthou. Lelike woorde kan die kans bederf om vriende te bly.

Hoe om te reageer as jy nie dieselfde oor ’n maat voel nie 

Moenie ’n ongemaklike situasie skep nie. Dis jou pel en jy ken hom/haar dus baie goed. Hanteer dit soos hulle dit verkies. As dit beteken om die onderwerp te vermy en oor te begin, doen dit. As dit beteken julle moet gesels om die saak uit te stryk, maak so. Maak net seker jou maat het nie onbeantwoorde vrae nie. Ons weet dit gaan baie ongemaklik wees, maar as jou vriendskap dit werd is, moet jy op die maklikste manier, en wat die minste seermaak, hierdeur kom.

Moenie onder druk voel nie. Net omdat hy/so voel en julle ’n wonderlike vriendskap het, beteken nie daar hoef meer tussen julle te ontwikkel nie. Vertrou jou gevoelens.

Wees geduldig. Jou pel beleef baie emosies op die oomblik. Gee hulle ruimte om te herstel, maar sê vir hulle jy sal hulle ondersteun as hulle dit nodig het.

Wees sensitief. Wees gevoelig oor hul emosies; dit sal mettertyd makliker raak, maar tot dan moet jy liewer stilbly as jy van iemand anders hou.