Het jy al soos ’n wurm gevoel as jy met leë hande by ’n partytjie opdaag terwyl al die ander die boodskap gekry het dat hulle iets moet saambring? Nuusflits: Daar was geen boodskap nie. Die ander gaste het hul etiketreëls geken.Gebruik Anna Musson, etiketkenner en die stigter van The Good Manners Company, se wenke om jou jou beste voetjie te help voorsit.

By ’n dinee of partytjie

“Vra altyd wat jy kan saambring,” sê Anna. “Dis goeie maniere vir die gasvrou om ‘niks’ te sê, maar ’n goeie gas sal altyd iets saamneem.”

Tuisgemaakte kolwyntjies, stylvolle sjokolade of blomme is ’n goeie idee.

Wanneer jy RSVP

“RSVP beteken ‘antwoord asseblief’ in Frans; daarom moet jy ‘ja’ of ‘nee’ sê – nooit net ‘ek RSVP’ nie,” sê sy. “As jy nie seker is of jy sal kan gaan nie, RSVP ‘nee’. Jy kan dit altyd later na ‘ja’ verander. Maar dis nie goeie maniere om mense aan ’n lyntjie te hou nie.”

Dieselfde geld vir uitnodigings op Facebook, sê Anna. “RSVP met ’n ‘ja’ of ‘nee’, daag betyds op en bring net die mense saam wat jy gesê het jy gaan saambring (en moet beslis nie die uitnodiging aanstuur nie).”

Openbare vervoer

Daar is niks erger as ’n luidrugtige, irriterende mens op ’n trein, bus of taxi nie. Hoe kan jy keer dat jy Daardie Mens is?

“Sê vir die bestuurder môre. Dit sal julle albei gelukkiger laat voel,” sê Anna. “As jy jou sitplek aan ’n volwassene wil afstaan of aan iemand wat lyk of hulle dit nodig het, staan op voor jy dit aanbied, anders kan hulle dalk te sleg voel om dit te aanvaar.”

Anna sê die ander groot etiketflaters is om lang foongesprekke te voer – “die beste is om te sê: ‘Ek is nou op die trein. Ek bel jou netnou terug’” – en na sulke harde musiek te luister dat ander mense dit deur jou oorfone kan hoor. “Dis nog erger om dit reguit uit jou foon se luidspreker te speel – ongelooflik onbedagsaam!” sê sy.

Afstel van planne

Kop uittrek is die maklikste manier om ’n reputasie as ’n onbetroubare vriend te kry. Sorg dat jy ’n goeie pel is. “As dit ’n groot geleentheid is, is dit die beste om te bel en te verduidelik. Dit sal keer dat jul verhouding daaronder ly,” sê Anna.

’n E-pos is ook ’n goeie opsie, met ’n teksboodskap heel onderaan die lys van goeie maniere.

Hoe nader aan die geleentheid dit is, hoe beter is dit om te bel. “Dink hoe jy sou gevoel het as jy aan die ontvangkant was.”

Iets moois om te doen

Stuur ’n bedankingskaartjie.

’n Regte vel papier per slakkepos klink dalk ouwêrelds, maar dis die hele idee. In vandag se kitssamelewing is ’n handgeskrewe briefie iets besonders en bedagsaam. “Dit is in die haak om iemand per teksboodskap te bedank en dis beslis beter as glad geen dankie nie, maar ouer geslagte verkies beslis ’n handgeskrewe kaartjie bo ’n e-pos of e-kaart, wat eerlikwaar baie min tyd of moeite verg.”

Koop mooi papier en laat waai!

Eetgerei-101

Baie eetgerei? Begin buite en werk met elke gang binnetoe.

  • Wys jy is klaar deur jou mes en vurk langs mekaar met hul voorkant na bo op jou bord neer te sit.
  • Die eetgerei vir nagereg behoort aan die bokant van jou bord op die tafel te lê.
  • Jou glas moet regs van jou bord geplaas word.
  • Wag altyd tot almal bedien is voor jy begin eet.

Tegniket

Die steeds groeiende wêreld van tegniese toestelle en sosiale media is genoeg om enige etiket-ghoeroe se kop te laat draai. Anna deel ’n paar belangrike reëls:

Fone

  • Weerstaan die versoeking om gedurig jou foon na te gaan terwyl jy by mense is.
  • Moenie ’n klipharde luitoon kies nie.
  • Moet nooit jou foon tydens aandete gebruik nie. “Dit moet nooit saans aan die etenstafel gesien word nie.”
  • Hou dit afgeskakel of op stil gestel wanneer jy by die skool is.

Aanlyn

  • Moenie foto’s plaas waarop jy wonderlik lyk, maar nie jou vriende nie.
  • Moenie skielik Facebook-vriende word met jou beste vriendin se eks nie. Hallo, meisie/ou-kode!
  • Wanneer iemand op jou muur skryf of vir jou Facebook-verjaardagwense stuur, hoekom skryf jy nie terug nie? Dis baie ouliker as om net “like” te druk.