Jou broer is in die koelste vriendekring by die skool, speel rugby vir die eerste span, vaar goed met sy skoolwerk en het boonop ’n pragtige meisie. Jou ouers is baie trots op hom en dit voel of jy gedurig met hom moet meeding om hul aandag.

Jy voel eintlik onsigbaar, veral as hulle goed vra soos: “Hoekom kan jy nie meer soos jou broer wees nie?”

Klink dit dalk bekend?

Ons familie en selfs onderwysers vergelyk ons dikwels met ons broers of susters en vriende, maar as jy in die strik trap om jouself met ander te vergelyk, is dit soos gif vir jou siel.

Daardie stemmetjie in jou kop wat vra: “Hoekom kan ek nie so gewild soos hy wees nie?” of “Hoekom kan ek nie so slim soos sy wees nie?” sal later harder wees as enige positiewe gedagtes wat jy dalk oor jouself het en jou laat voel jy is nie goed genoeg nie.

Eiewaarde gaan oor hoeveel jy voel jy werd is en hoeveel jy voel ander mense jou waardeer. Dis belangrik om ’n gesonde selfbeeld te hê, want as jy goed voel oor jouself, sal dit ook ’n goeie uitwerking op jou geestesgesondheid en gedrag hê.

Dinge wat jou selfbeeld beïnvloed (box)

Puberteit ’n Tiener se lyf ondergaan baie veranderinge en dit kan moeilik wees om daarby aan te pas. Dit gebeur op ’n tyd wanneer dit baie belangrik is om te voel jou vriende aanvaar jou; daarom is dit glad nie verbasend as jy jouself met ander begin vergelyk nie. Maar dis belangrik om te onthou nie almal groei of ontwikkel op dieselfde tyd op dieselfde manier nie.

Mediadruk Mense is sosiale wesens – ons wil almal iewers tuis voel en inpas. Wanneer ons ’n tydskrif met ’n baie sexy Rihanna op die voorblad sien, is ons geneig om onsself met haar en ander aantreklike sterre te vergelyk. Onthou, daardie foto’s is dikwels gedokter en al is sy hoe mooi, is selfs Riri nie so volmaak soos wat daardie voorblad jou wil wysmaak nie.

Gesin Dis geen geheim dat ons ouers net die beste vir ons wil hê nie, maar soms moedig hulle ons te veel aan om die beste te wees, goed te lyk en ons goed te gedra. As jy met hulle praat oor hoe dit jou laat voel, sal hulle gewoonlik besef hulle moet minder druk op jou uitoefen. Praat met respek met hulle wanneer jy jou gevoelens met hulle deel en vra hulle om ook jou gevoelens te respekteer.

Bou so ’n beter selfbeeld (box)

  1. Hou op dink almal is beter as jy; hulle is nie. Onthou niemand is volmaak nie.
  2. Ons verskil almal – dink maar aan die verskeidenheid groottes, vorms en kleure wat mense het. Leer om lief te wees vir wie jy is. Jy gaan immers nog lank met jouself moet saamleef. . .
  3. Ons het elkeen ’n eie doel in die lewe. Vind uit wat joune is. Ontdek jou sterk eienskappe en spits jou daarop toe om jou roeping te vervul.
  4. Fokus op die waarde wat jy tot die lewe van die mense om jou kan toevoeg.
  5. Dink en sê altyd goeie dinge oor jouself – selfs as dit nie goed gaan nie. Wat ons dink en sê, word ons werklikheid. Wees positief!

Leer by jou broer/suster

Pleks van jouself bejammer of groen word van jaloesie, leer by jou uitblinker-broer of -suster.

Aanhouer wen. Ons wed jou broer/suster het nie die rugby- of netbalspan gehaal deur smiddae ná skool voor die TV te lê nie, of hoe? Vind uit wat jou passie is en volg hul voorbeeld deur hard daaraan te werk.

Wees jouself. Moenie iemand naboots wat presteer nie – almal is nie die vinnigste naelloper of wiskunde-genie nie. Dalk is jy beter met skryfwerk of sing. Die wêreld het immers ook skrywers en sangers nodig!

Vergeet van die verlede se foute. Niemand slaag heeltyd met alles nie. Moenie bang wees om jou ouer broer of suster se raad te vra nie. Hulle sal dit heimlik waardeer dat jy hulle genoeg vertrou om dit te doen.

-       Tsakane Ndlovu