Eerstens moet jy enige nadelige gedrag uitken en dit stopsit. Eet jy sodat jy beter kan voel of kyk jy te diep in die bottel wanneer jy ongelukkig is? Of is jy aggressiewer as gewoonlik en stoot mense na aan jou weg? Wees eerlik oor jou reaksie. Dit sal jou help om makliker te weet wanneer jy iets daaraan moet doen.

Selfs wanneer jy heeltemal afgesonder voel, moet jy weet daar is altyd iemand wat bereid is om na jou te luister. As jy ’n vriend of familielid het wat jy volkome vertrou, moet jy hulle net bel – dit sal jou verbaas hoeveel dit help om uiting aan jou gevoelens te gee. Liefdadigheidsorganisasies soos die Samaritans het ’n hulplyn wat jy kan bel, veral as jy bekommerd is jy ly dalk aan depressie.

Dit is dalk ’n groot versoeking om onder die kombers in te kruip en te huil, maar weerstaan dit. ’n Vinnige huiltjie is in die haak, maar jy gaan net slegter voel as jy broei oor jou gevoelens. Soms kan ’n verandering van omgewing wondere verrig; gaan ry iewers heen met die trein of besoek ’n plattelandse dorpie. Oefening kan ook jou bui verander – draf net 20 minute om jou endorfiene vry te stel en jou gedagtes skoon te kry.

Reik uit na mense wanneer jy afgesonderd of alleen voel. Kletskamers en forums is ’n wonderlike beginpunt en kan jou minder alleen laat voel. Maar pasop vir sosiale media. Jy dink dalk niks daarvan om jou digitale vriende se doen en late dop te hou nie, maar dit kan jou selfs slegter laat voel. Mense hou dikwels die beste weergawe van hulself op Facebook en Twitter voor, wat gewoonlik misleidend is. Dit kan jou minderwaardig laat voel, al is die beeld wat hulle voorhou, heeltemal vals.

Soms is ’n stootjie in die regte rigting al wat nodig is om jou te herinner aan wat jy werklik het. Wanneer jy beter voel, kan jy ’n fotoalbum van jou geliefdes skep of ’n plakboek maak met herinneringe aan wonderlike tye. Gebruik dit om jou op te beur wanneer jy weer ongelukkig is – en reik dan uit na die mense daarin.

© Cover Media