Die internet is propvol lysies van dit wat mense behoort te doen: Doen dié oefeninge om maer te raak, studeer so om sukses te behaal, koop dit om geld te bespaar. Daarom het die skrywer en filosoof Paul Hudson met ’n slim lys vorendag gekom van als wat jy nié moet doen nie, en dit op die webtuiste Elite Daily gelaai.

Volg sy wenke vir die 20 goed wat sterk, verstandige mense nooit sal doen nie.

Klou vas aan die verlede.

Sterk mense kyk vorentoe. Besef die verlede is buite jou beheer en dit wat ver vorentoe lê, is onvoorspelbaar. Spits jou toe op die hede.

Val vas in jou gemaksone.

Enigiemand wat te lank in hul gemaksone bly, verloor hul identiteit. Hou aan vorentoe beur en hou moed.

Moenie jou aan ander se mening steur nie.

Moet nooit dat jou ego jou laat dink jy het nie ander se insette nodig nie. Groepwerk en ander se raad is waardevol en kan jou baie leer.

Vermy verandering.

Verstandige mense besef dat jy nie verandering kan keer nie. Dit gaan gebeur; daarom mors jy jou tyd deur dit wat nie verander kan word nie, te probeer beïnvloed.

Dink jy weet alles.

Bly altyd oopkop. As jy vooropgestelde idees oor die lewe het, ontneem jy jouself die kans om nuwe dinge te leer.

Laat ander jou besluit vir jou neem.

As jy ander jou besluite vir jou laat neem, skuif jy die verantwoordelikheid op hulle af, maar dit bly jy wat met die gevolge gaan sit. Slegs jy behoort jou besluite te neem.

Raak jaloers op ander se sukses.

As iemand anders sukses kan behaal, kan jy ook en behoort jy bly te wees vir hulle. Ander se sukses verminder nie jou kans om ook iets te bereik nie.

Dink aan die hoë risiko dat jy kan misluk.

Mense wat verstandig is, verstaan dat jou gedagtes ’n groot invloed het op hoe jy te werk gaan. As jy fokus op jou kans op mislukking, pleks van jou kans op sukses, kniehalter jy jouself.

Bejammer jouself.

Die lewe is moeilik en teëspoed onafwendbaar, maar die lewe gaan aan; jy is in beheer van of jy opstaan en of jy bly lê.

Konsentreer op jou swak punte.

Om op jou swak punte te konsentreer en hulle te probeer verbeter, het sy voordele, maar om jou op jou sterk punte toe te spits en hulle te ontwikkel, is die belangrikste.

Probeer ander mense gelukkig hou.

Jy gaan nooit almal tevrede kan stel nie. Lewer jou beste moontlike werk, ongeag wie die eindproduk beoordeel.

Blameer jouself vir als buite jou beheer.

Sterk mense weet wat hulle kan beheer, verstaan dat hulle sekere goed nie kan beheer nie, en ignoreer dit wat heeltemal buite hul beheer is.

Wees ongeduldig.

Die meeste mense misluk nie omdat hulle nie goed genoeg is nie; hulle misluk omdat hulle nie bereid was om te wag nie. Wees geduldig; mettertyd sal jy sukses behaal.

Moenie behoorlik kommunikeer nie.

As mense jou verkeerd verstaan, belemmer dit jou kans op sukses. Ruim tyd in om te verseker die boodskap wat jy wil oordra, kom reg by mense uit.

Dink die wêreld skuld jou iets.

Die lewe en ander mense skuld jou niks. Niks in die lewe word verniet uitgedeel nie, en dis jou plig om iets te bereik as jy dit wil hê.

Maak keer op keer dieselfde fout.

Selfs ’n donkie stamp sy kop net een keer. Leer uit jou foute.

Gee jou vrese vrye teuels.

Slim mense besef dat kwaai vrees vir iets, ook beteken die sukses nadat jy dit bemeester het, is ongelooflik. Moenie bang wees om jouself te druk nie; die gevolge kan ’n beloning wees.

Doen sonder dat jy dink.

Om iets half te deurdink en te oorweeg kom neer op luiheid. Maak seker jy begryp ’n situasie ten volle voor jy daarop reageer.

Weier ander se hulp.

Moenie bang wees om saam met ander te werk nie. Geen mens kan alles alleen doen nie, selfs al wil jy. Luister na ander se idees; dalk leer jy iets. Indien nie, kan jy altyd vir hulle iets leer, wat op die ou end jou lewe ook makliker maak.

Gee moed op.

As iets werklik vir jou belangrik is, sal jy uithou en aanhou. Die meeste mense se mislukking kom omdat hulle eenvoudig moed verloor het. As jy die eerste keer misluk, probeer weer.