’n Kitsbehandeling sal nie van droë hare ontslae raak nie – jy moet by die wortel van die probleem uitkom, sê die haarkundige dr. John Gray. Hier gee hy sy beste wenke om jou lokke in ’n goeie toestand te hou.

As jy wil weet wat die oorsaak van jou droë hare is, vra jou af:

  • Hoeveel chemiese behandelings kry jou hare?
  • Hoeveel keer per week was jy jou hare en stileer jy dit met hitte?
  • Hoe gereeld gee jy jou hare ’n opknap- en vogbehandeling?
  • Hoe gereeld maak jy ’n afspraak met ’n professionele haarkapper om gesplete haarpunte af te sny en jou hare in ’n mooi en maklik hanteerbare kapsel te vorm?

Behandelings wat die hare laat rys

Chemiese haarbehandelings breek die sterk, strukturerende proteïen keratien af. Dit beïnvloed jou hare se vermoë om die vloei van vog in en uit die hare te beheer, beskadig die hare en maak dit porieus.

John se raad is: “Hare moet ná elke was opgeknap word. Beskerming teen vogverlies werk die beste nadat ’n opknapper of maskerbehandeling deur die hare gewerk is.”

Was en spoel

Om jou hare daagliks te was en te stileer kan ’n verlies aan vog veroorsaak. Hitte-stilering stroop die hare van natuurlike olies en maak dit droog en bros.

“Maak jou hare met ’n handdoek droog nadat jy dit gewas het,” sê John. “Dis belangrik, aangesien die hitte in stileerinstrumente soos ’n haardroër temperature van 140 °C kan bereik en die water in jou hare kan laat kook.”

Breek die droogte

Gereelde was en stilering van die hare beteken gereelde opknapping, maar maak seker dat jou produkte doeltreffende middels vir bevogtiging en opknapping bevat, soos gliserol, panthenol, sy- en koringproteïene.

Besoek jou haarkapper

“Besoek gereeld ’n professionele haarkapper,” sê John. “Met meer as 100 000 hare op die gewone mens se kop beteken 2 cm van gesplete punte in werklikheid 2 km beskadigde punte. Deur die regte haarlengte te handhaaf, sal dit maklik wees om jou kapsel te beheer en mooi te hou, en jou hare sal eindelik sy voggehalte kan behou.”

Bron: Pantene

Foto met vergunning van Marin by FreeDigitalPhotos.net