Sunscreen

  • Kry ’n sonskerm waarvan jy hou

Jy sal meer geneig wees om ’n sonbrandmiddel gereeld te gebruik as jy daarvan hou. As jy nie van ’n sonskerm se tekstuur, reuk of vloeibaarheid hou nie, is die kans skraal dat jy dit sal gebruik. Gelukkig is daar vir elke dik, taai en onwelriekende sonskerm een wat lig en maklik absorberend is en lekker ruik.

  • Kies altyd breëspektrum-sonskerms

Breë spektrum beteken die sonskerm bied beskerming teen verouderende en kankergewende strale (UVA) en sonbrandstrale (UVB). Dis ’n nuwe term wat eers die afgelope paar jaar gebruik word, en verskyn dalk nie op al die sonskerms in jou winkel nie. Kyk op die etiket of dit sink of avobensoaat bevat, aangesien dit teen UVA-strale beskerm.

  • Wend weer aan

Die meeste mense wend sonskerms nie reg aan nie of wend nie genoeg daarvan aan vir voldoende beskerming nie. Dis mos makliker om soggens net ’n bietjie aan te smeer. Kenners beveel aan dat sonbrandmiddels in lae aangewend word. Spuit dit in ’n streep aan jou bene en arms en vryf in. Doen dit weer. As jy ’n spuit gebruik, plaas die punt naby aan die vel en spuit stadig terwyl jy dit op en af beweeg. Doen dit tot jou vel blink. Herhaal. Vir voldoende beskerming vir die gesig, plaas ’n ertjiegrootte-hoeveelheid op jou voorkop, wange en ken en vryf saggies in. Herhaal.

  • Onthou jou neus

Die meeste van ons skeep ons neus af wat sonskerms betref of vergeet heeltemal daarvan. Dit gebeur veral wanneer ons ’n bril dra, wat ’n beslommernis is om af te haal. Velkanker kom die meeste voor op die neus en ander afgeskeepte dele soos die haarlyn, voete, bors en ore, asook die agterkant van bene en hande.

  • Dis nooit te laat nie

As jy deur jou tiener- en kinderjare min of geen sonskerms gebruik het nie, is jou risiko om velkanker op te doen beslis hoër. Dis belangrik om dadelik sonbrandmiddels te begin gebruik. Jou vel se herstelvermoë neem af namate jy ouer word, dus is jou risiko nou die grootste.

  • Help jou sonskerm

Die beste raad om jou teen die son te beskerm is om dit heeltemal te vermy. Dis waarom die gebruik van sonskerms moet gepaardgaan met ander beskermende maatreëls, soos die dra van ’n wyerandhoed, donkerbril en klere wat jou teen blootstelling beskerm. Gaan swem liewer soggens as in die middel van die dag wanneer die son op sy warmste is.

Lerato SeuoeDeur Lerato Seuoe – skoonheidsredakteur van Huisgenoot, YOU & Drum