Lente is in die lug en somer net om die draai. Jy kyk in die spieël en sug. Jy is moet vir jou lokke wat so droog, moeg en alewig dieselfde lyk. Een van ons lesers, Caroline Mouton van Namibië, het onlangs op ons Facebook-blad geskryf: “Ek soek ’n nuwe haarstyl.” Sy sê haar hare is uitgegroei en dit voel of dit tyd is vir ’n nuwe styl. “’n Pragtige haarstyl laat ’n mens altyd goed voel,” slaan sy die spyker op die kop.

Haar kommentaar het ons laat besluit om kenners se raad te vra vir almal wat vir die lente en somer ’n nuwe haarstyl soek. Wat is die moets en moenies as jy van haarstyl verander en watter haarstyle is in die kol vir die warmer dae? “Die haartendens vir die lente en somer neig meer na reguit hare,” meen Freya Labuschagne, kreatiewe direkteur by Gary Rom Hairdressing in Pretoria. Sy sê die bob is veral weer hoogmode en dan ook baie kort hare. Dink maar aan die aktrise Reese Witherspoon en die sangeres Taylor Swift se mooi bobs en die aktrises Rolanda Marais en Halle Berry, wat met hul kort hare straal.

A photo posted by Taylor Swift (@taylorswift) on

“Wanneer jy jou haarstyl verander, moet jy en jou haarstilis ’n paar goed in gedagte hou,” waarsku Freya. “Is dit byvoorbeeld gepas vir jou haartekstuur? Sommige kliënte bring ’n foto van iemand, maar al verskil hul hare heeltemal van daardie mens s’n, verwag hulle dieselfde resultaat. Maak seker die styl pas by jou gesigvorm, liggaam en leefstyl.” Die stilis Maryke Oosthuizen van Terenzo Hairdressing International is dit eens. Jy moet jou gesigvorm, ouderdom, gewig, leefstyl en vel se ondertoon te ken, sê sy. Sy beklemtoon ’n mens moenie huiwer om jou haarstyl te verander nie. “Vroue klou dikwels jare lank aan ’n styl vas omdat dit gerieflik is. Beweeg ’n bietjie uit jou gemaksone en eksperimenteer met kleur; dit is tog nie so permanent soos ’n haarsny nie. Lang hare bly altyd mooi, maar daardie pragtige lang lokke kan maklik warm vertoon en dan kan jou vel se ondertoon ook sommer rooier lyk.” Sy meen ook ’n bob is een van die lente en somer se koel keuses. So ook die lang bob (of lob) soos die aktrise Emma Stone, die werklikheidstelevisiester Khloé Kardashian en die Fifty Shades of Grey-aktrise Dakota Johnson.

A photo posted by Khloé (@khloekardashian) on

Die pixie-styl, soos die aktrises Emma Watson en Jo da Silva en die 1960’s-model Twiggy se kapsel, is ook nou ’n gewilde neiging, sê Maryke.

Sy meen ’n natuurlike haarkleur is ’n goeie keuse, soos sandblond (dink maar aan Jennifer Aniston se haarkleur), latte sagte bruin kleure, koel blonde lokke of selfs ’n amber kleur. Freya waarsku ’n mens moenie ’n styl kies wat lank vat om te stileer as dit nie by jou persoonlikheid pas en jy nie tyd het daarvoor nie. “Kies ’n maklike en veelsydige snit wat op baie maniere gedra kan word, veral as jy in die somer ’n strandvakansie gaan hê. Die laaste ding wat jy wil hê, is ’n snit wat jy daagliks moet stileer.” Moenie ’n haarkleur kies wat op ’n foto mooi lyk maar nie by jou vel se ondertoon pas nie, sê Maryke. ’n Goue of silwer lap dien as riglyn om uit te vind of jy ’n warm of koeler ondertoon het.” Vermy te veel kleur in een styl omdat dit oorweldigend kan voorkom, voeg sy by.

A photo posted by Marianna Varelas (@hairtekhni) on

“Wees ook versigtig om nie jou hare in die transformasieproses te beskadig nie. Die belangrikste is om iets te kry wat vir jou werk en seker te maak dit pas by jou persoonlikheid. Soms klou ons so vas aan die nuwe ‘it looks’ dat ons vergeet om dit by ons eie persoonlike styl en leefstyl aan te pas.”