1.     Was elke oggend jou gesig

Maak dit sommer ’n gewoonte deur jou gesig te was net nadat jy soggens jou tande borsel. Sweet, olie en bakterieë bou snags op jou vel op wat jy dadelik moet afspoel. Dit verwyder ook ekstra olie, wat aknee kan veroorsaak. Jy hoef jou gesig net liggies te was – as jy te woes daaraan skrop, kan dit jou sensitiewe vel irriteer.

2.     Gebruik ’n bevogtiger

Wanneer jy jou vel bevogtig, herstel jy die natuurlike olies en water wat deur die loop van die dag verlore gaan. As jy geneig is om puisies te kry, moenie ’n ryk room gebruik nie. Wend altyd bevogtiger aan nadat jy jou gesig gewas het.

3.     Beskerm jou vel

As jy wil verhoed dat jy op 30 soos ’n droë pruim lyk, is dit belangrik om daagliks sonbrandroom aan jou gesig aan te wend. Suid-Afrika se son is veral skadelik en alle veltipes moet sonbrandmiddel gebruik. Koop ’n bevogtiger wat reeds ’n SBF (nie minder nie as 30) bevat – dan slaan jy sommer twee vlieë met een klap dood! Probeer ook die son tussen tienuur en tweeuur vermy, wanneer dit op sy skerpste is. So verhoed jy dat jy vinnig verouder en beskerm jou teen velkanker.

4.     Was altyd jou gesig voor jy gaan slaap

Dit is een van die belangrikste gewoontes wat jy kan kweek vir ’n stralende vel. Wanneer jy slaap, haal jou vel asem; daarom is dit belangrik om enige grimering en vuilis te verwyder voor jy gaan slaap, maak nie saak hoe moeg jy is voor jy in die bed klim nie. Gebruik spesiale produkte om grimering te verwyder, veral om die sensitiewe oog-area. Kies ongegeurde produkte wat nie jou vel sal irriteer nie.

5.     Wees natuurlik

As jy grimering gebruik, moet dit nie oordoen nie. Dit kan dalk jou vel irriteer en probleme soos puisies vererger.

Onthou, skoonheid kom van binne. As jy vol selfvertroue is, selfs al het jy vanoggend met ’n puisie op jou voorkop opgestaan, sal niemand dit raaksien nie. Belowe!

Shané Barnard

Bronne: Beautyandbedlam.com, teens.webmd.com, beauty.about.com