Mite: Duur produkte is doeltreffender as goedkoperes

Feit: Die doeltreffendheid van ’n produk lê in die samestelling daarvan en nie die prysetiket nie. Daar is ondoeltreffende of swak produkte in elke prysklas.

Die bedrag wat jy kies om aan velsorg te bestee hou glad nie verband met die produk se gehalte of uitsonderlikheid nie. Koop eerder wat vir jou werk en spaar waar jy kan. Om minder te bestee sal nie jou vel benadeel nie; en om ’n bietjie meer te bestee, sal dit ook nie bevoordeel nie. Dit hang alles af hoe die produk saamgestel is.

Mite: Natuurlike bestanddele is beter vir jou vel as sintetiese bestanddele

Feit: Vergeet alles wat jy dalk daaroor gehoor of gelees het dat natuurlike bestanddele beter vir jou vel is, want dit is nie waar nie. Geen ondersoek het al klinkklaar bewys dat die bewering waar is nie.

Die definisie van “natuurlik” is vaag en kosmetiekondernemings gebruik dit losweg soos en wanneer dit hulle pas. Net omdat die bestanddele in die grond gegroei het of in die natuur ontdek is, beteken nie outomaties dat hulle goed is vir jou vel nie. Dieselfde geld vir sintetiese produkte.

Mite: Dis goed as produkte jou vel koel laat voel of laat tintel.

Feit: Die sensasie is eerder ’n aanduiding van irritasie.

Die tintelende gevoel is eintlik jou vel se reaksie op irritasie en veroorsaak inflammasie. ’n Produk wat jou vel so laat voel, kan jou vel se helingsproses ontwrig, littekens vererger, jou vel laat styftrek en ook die groei bevorder van bakterieë wat aknee veroorsaak. Mentol, kamfer, kruisement en peperment is irritasiewerende bestanddele. Irritasiewerende middels word gebruik om plaaslike inflammasie aan te moedig met die doel om inflammasie in die onderliggende weefsel te verminder. Hulle vervang basies die een soort inflammasie met ’n ander soort, wat nie goed is vir jou vel nie. Enige soort irritasie of inflammasie is skadelik vir die vel se immuun- en herstelstelsel. Die uitwerking wys dalk nie op die oppervlak van die vel nie, maar skade vind wel plaas en bou mettertyd op.

Mite: Jou ouderdom is ’n belangrike oorweging wanneer jy velsorgmiddels koop

Feit: ’n Aantal produkte word na bewering vir ’n spesifieke ouderdomsgroep geformuleer – meestal vir ouer vroue, wat gewoonlik na vroue bo 50 verwys. Voor jy produkte in bemarkingsafdelings koop, dink oor hoekom vroue ouer as 50 saam groepeer word. Daar word van vroue van 40-45 verwag om nie dieselfde produkte te gebruik as wat ’n 50-jarige vrou gebruik nie, al is hulle maar vyf tot 10 jaar weg van 50 af. Tog word van ’n 80-jarige vrou verwag om dieselfde produkte te gebruik as wat iemand gebruik wat 50 is (vreemd, nè?). Al wat jy moet weet, is dat ouderdom nie ’n velsoort is nie en dat jy eerder produkte moet kies wat vir jou velsoort geskik is.

Mite: Ouderdomsvlekke is ’n aanduiding van veroudering

Feit: Die term “ouderdomsvlek” is baie misleidend. Die bruin, vlekkerige verkleurings is nie die gevolg van veroudering nie, maar van jare lange blootstelling aan die son.

Sonvlekke kan op enige ouderdom verskyn, van die oulike sproete oor ’n kind se neus tot die gladde verkleurings wat jy in jou 20’s sien. Die sleutel tot die behandeling van hierdie verkleurings lê nie net in produkte wat hulle na bewering wegtoor  nie. Dit verg ook bewese bestanddele soos hidrokinoon en verskillende vorme van vitamien C tesame met daaglikse beskerming om ’n sigbare verskil te maak.

Lerato SeuoeDeur Lerato Seuoe – skoonheidsredakteur van Huisgenoot, YOU en Drum