Ek was nog altyd dol oor trosse ligte; hulle is so ’n verruklike vertoon van oorvloed. Die toppunt van trosligte is kandelare, maar my gunsteling is bondels eenvoudige gloeilampe.

Hier is ’n paar mooies wat ek op Pinterest gekry het. Party kan maklik by die huis nageboots word, veral die flesligte. Dis natuurlik altyd wys om professionele hulp of raad te kry as jy met elektrisiteit werk en enigsins onseker is.

1. ’n See van lig  

 sea of lights

’n Kaal gloeilamp aan ’n koord hoef nie soos iets uit ’n ondervragingsvertrek te lyk nie. ’n Klompie bymekaar kan betowerend wees. Hierdie speelse versameling van verskillende soorte gloeilampe sal pragtig lyk aan die punt van ’n gang of in ’n trapportaal. Kies gloeilampe met ’n lae watt sodat die helderheid jou nie verblind nie.

Louise Boyd het hierdie foto oorspronklik op Pinterest geplaas.

2. Bottel dit! 

Colour-jar-lamps

Hierdie ligtrosse is baie eenvoudig om te maak. Die aanwysings vir die een met die geruite deksels (hoof foto) verskyn in die Doen-dit-self-artikel in Huisgenoot se uitgawe vir 11 Julie 2013. Die foto van die een met gekleurde flesse is oorspronklik van obaz.com af op Pinterest geplaas.

3. ’n Flits van inspirasie 

Torch-lights

Kyk net hoe vindingryk! Die Amerikaanse kontemporêre kunstenaar Dolan Geiman het hierdie troslig en verskeie soortgelykes uit afgeleefde ou flitse geskep om ’n kantoor op te knap.

4 Skermkuns

Pretty-shades

Hier is nog ’n oulike idee wat jy maklik kan nadoen. Heg bloot ’n elektriese koord aan elke ligsok, voeg ’n sierlike skerm by, sit ’n prop aan die ander punt en jy het ’n prettige vertoonstuk vir ’n vroulike vertrek.

5 So reg in my kraal

Wooden-lights

Hierdie smaakvolle, aardse stringe reuse houtkrale sal by enige kontemporêre dekor met ’n Afrika-tema inpas. Tog kom die Bright Beads-ligtrosse uit Australië. (Die ontwerper Coco Reynolds het dit vir die onderneming Marz Designs van Sydney geskep.) Ons wonder wat nog aan ’n elektriese koord geryg kan word . . .

Nagedagte

Wired

Wat kan ’n mens doen met daardie lang elektriese koord wat gewoonlik in ’n onooglike en geknoopte hoop langs die muurprop lê? Put inspirasie uit hierdie foto, wat van Méchant Design se blogspot af op Pinterest geplaas is. Dis ’n stadsilhoeët wat met kabelhake op sy plek gehou word.

Volg ons op Pinterest.

- Alfie Steyn